CrimeLocal newsNewsUpdate

Die Facebook-wolhaarstorie ontrafel

Krugersdorpse kulkunstenaars is uitgevang na 'n vals fondsinsamelingspoging op Facebook.

Sedert die artikel oor ‘n vrou se Facebook-fondsinsamelingpleidooi op die News se webtuiste verskyn het, het talle lesers en slagoffers na vore gekom om te vertel van die vrou en haar kêrel se swendelary.

Die artikel Facebook-gebruikers kry snuf in die neus, wat op 3 Maart verskyn het, noem dat ‘n vrou Facebook gebruik het om ‘n familie in nood te help, maar dat die gemeenskap haar motiewe begin bevraagteken het.

Talle mense het kommentaar gelewer oor die paartjie. Meestal is beweer dat dit nie die enigste voorbeeld is van waar die paartjie vir minderbevoorregtes fondse en goedere insamel sonder om enige inligting of bewyse daarvan te verskaf nie.

Lesers het vir die News boodskappe gestuur dat hulle die betrokke paartjie gekontak het om fondse of donasies by die behoeftiges te gaan aflaai, maar het net verskonings en leuens gehoor.

“Hi, Ek dink daai huis afbrand is ‘n skelmstorie. Ek het laas vir hul stukkende goed gegee en weet jy hoe verpes sy my van daai dag af. Hul het gevra vir stukkende goed op Facebook en toe sal sy my vra vir ‘n remote en sulke goed die volgende dag. So wees maar versigtig voor jy goed skenk,” het ‘n leser, wat anoniem wil bly, laat weet.

‘n Ander leser het op die Krugersdorp Network Community Facebook-blad gevra waar sy twee van haar selfone kan instuur vir herstelwerk.

Die paartjie het haar gekontak en sy het haar Samsung S4 en BlackBerry gaan aflaai en ‘n deposito betaal.

Alhoewel sy die S4 teruggekry het en die foon se kamera steeds nie werk nie, wag sy al langer as ‘n maand vir haar BlackBerry, maar al wat sy kry is verskonings.

Nog ‘n boodskap lees: “Ek lees nie eens wat die vrou sê nie. Ek het een keer op ‘n boodskap gereageer oor ‘n rekenaar. Hulle het my mal gemaak vir geld en toe ek daar kom is die rekenaar nie eers daar nie. Ek moes wag, en het net die gevoel gekry hulle kul mense.”

‘n Ander leser het op ‘n advertensie vir ‘n rekenaar van R500 te koop gereageer.

Die leser het vir hulle gesê dat sy die rekenaar die volgende dag sou kom haal. In die boodskap beweer die leser dat die paartjie hulle aanhoudend geteister het vir geld deur middel van WhatsApp-boodskappe.

Die paartjie het die rekenaar toe weereens op die Facebook-blad geadverteer.

“Toe sê hulle net jammer, ek kan die rekenaar kry, maar kan ek nie geld vroeër bring nie omdat hulle nie elektrisiteit en kos het nie. Toe sê ek nee, ek sal kom wanneer ek reg is en het mos ‘n tyd gegee. Toe ek daar kom is die rekenaar glo by iemand anders en ek moet net wag. Ek was omgekrap en vra toe hoekom druk hulle vir geld maar as ons daar kom is die rekenaar weg. Ek het amper 20 minute gewag vir die rekenaar. Iets het nie vir my reg gevoel nie.”

Daar word beweer dat die paartjie tans werkloos is, en by ‘n familielid woon wat nie bewus is van hulle kulkunsies nie.

Na die bohaai op Facebook het die paartjie die News gekontak om hulle kant van die saak te stel, maar het die afspraak gekanselleer.

“Ek weet nie wat vandag aangaan nie, of wat vandag gaan gebeur nie, maar my verloofde het gister gecrack en ‘n handvol slaappille gedrink en hy is nou nog nie wakker nie,” lees die boodskap wat die vrou aan die News gestuur het.

Die News wag in spanning dat die paartjie kontak maak en verduidelik waar die brandslagoffers is vir wie hulle glo donasies op Facebook ingesamel het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button