Monnas kry nuwe rugbyborg
Hoërskool Monument het onlangs 'n funksie gehou waartydens die nuwe rugbyborg en -truie bekendgestel is.
Hoërskool Monument (Monnas) is trots daarop om hulle jongste rugbyborg Southern Business School (SBS) van Muldersdrift aan die gemeenskap bekend te stel.
Esté Pienaar, ‘n onderwyser, het gesê in die woorde van die bekroonde digter en oud-Monumentaar TT Cloete is Afrikaners lief daarvoor om partytjie te hou.
“Dié bekendstelling is ook ‘n partytjie: dit is ‘n nuwe fase, ‘n nuwe afwagting.”
Met tromme is die onder 14-, 15-, 16-, tweede- (Kwaggas) en die eersterugbyspan (Wit Bulle) se nuwe truie aangekondig.
‘n Staaltjie oor hoe die Kwaggas hulle naam en beroemde wit-en-swart gestreepte truie gekry het, is ook vertel.
Die wit truie se kleur is glo verander toe Monnas en die buurskool Hoër Tegniese Skool Nic Diederichs in die 1980’s in ‘n rugbyeindstryd kragte gemeet het.
Omdat albei dié skole se tweedespantruie wit was, is die Monnas-truie toe vir die wedstryd verander en so gelaat.
Skoolhoof Johann Calitz het gesê hulle streef as ‘n skool om kulturele, akademiese en sportgebied uit te blink.
“Daarom waardeer ons die borgskap en sien uit na ‘n goeie seisoen wat voorlê; iets wat nie moontlik sou wees sonder die hulp van ons goeie afrigters, ouerbetrokkenheid en skoolpersoneel nie.”
Hy het voorts gesê hulle wil ook hul plek op die skolerugbyranglys verbeter. Monnas is tans derde.
Rugbydirekteur Hans Coetzee het gesê dat hierdie bekendstelling beslis ‘n baie spesiale aangeleentheid is.
“Ons het ‘n nuwe borg wat ‘n nuwe era vir ons inlui.”
Hy het veral uitgewy oor die jare toe Monnas vir die eerste keer ‘n rugbyborg gekry het.
“Om as ‘n rugbyskool te kon ontwikkel was ‘n borgskap nodig. Dit was die begin van ‘n tydperk waar dit nodig was om ‘n beeld uit te dra,” verduidelik hy.
“Die eerste borg, Mr Price, het in 1998 betrokke geraak. Daarna het verskeie ander borge gevolg soos ABD Projects, Discovery Lodge en Genesis Projects wat vir die laaste sewe jaar die leisels as borg oorgeneem het.
In daardie sewe jaar toe Genesis Projects betrokke was, is nagenoeg R2 miljoen rand in skolerugby ingeploeg.
“Ons bedank graag al ons borge wat ‘n aandeel in ons rugbysuksesverhaal het.”
Chris Vorster, hoof van SBS wat die rugby vanjaar gaan borg, het op sy beurt gesê hulle is trots daarop om deel te wees van die wenresep van Monnas.
