CrimeEditor's choiceLocal newsNews

[KLANKGREEP]: Man sterf na hy met wapen oor kop geslaan is

Sewe verdagtes het 'n huis in Silverfields bestorm, die inwoners glo vasgebind en met 'n vuurwapen en koevoet oor die kop geslaan.

‘n Man is dood nadat sewe gewapende mans gister net na 9nm ‘n huis in Silverfields beroof het.

Volgens konstabel Thsepiso Mashale, ‘n polisiewoordvoerder het hulle toegang tot die huis verkry deur die voordeur met ‘n koevoet oop te breek.

“Hulle het toe die huisbewoners se hande vasgebind en die pa aangeval,” het sy gesê.

Don van der Merwe, 43, ‘n buurman wat reg oorkant die huis woon het gesê hy is seker die booswigte was eers by sy huis voordat hulle na sy bure se huis toe is.

“My hond het verskriklik begin blaf omdat daar iemand by my muur was. Ek kon hoor hoe hy hulle probeer byt het – dit is toe dat hulle oorkant toe is.

“Die hele buurt se honde het daarna aan die blaf gegaan.”

Don van der Merwe, ‘n ooggetuie gee sy weergawe:

Dit blyk dat die rowers oor die muur gespring het om toegang tot die erf te kry.

Die voertuie is buite op die grasperk getrek waarna die rowers die huis geplunder het op soek na waardevolle items voordat hulle met ‘n televisiestel, skootrekenaars en klere gevlug het.

“Die honde het so geblaf, maar ons het toe nie geweet wat aangaan nie. Daar was ‘n groot lawaai soos die rowers die hek opgetel het,” verduidelik Van der Merwe.

“Ek is buite toe om te kyk wat aangaan nadat ek gille gehoor het, seker soos die rowers die inwoners aangerand het – dit is toe dat ek twee karre verby my sien jaag.”

Hy het gesê hy verstaan die ouers en hul seun is met ‘n geweer oor die kop geslaan. Die dogter is glo met ‘n koevoet bygekom.

Die man is per ambulans na Netcare Krugersdorp Hospitaal geneem, maar is kort daarna oorlede.

“Ek kan vir jou sê ek is regtig nie tevrede met wat gebeur het nie; ‘n mens kan snags nie ‘n oog toemaak nie omdat ‘n mens bang is.”

In ‘n afsonderlike voorval is ‘n voertuig glo by Key West Winkelsentrum gesteel, maar geen inligting is tot dusver bekend nie.

Bestuur van die winkelsentrum het gesê hulle ondersoek die voorval en sal meer inligting bekend maak sodra dit beskikbaar is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button