Local newsNews

Ontmoet Sektor 8 GPF se bestuurslede

Die bestuurslede van Sektor 8 Gemeenskapspolisiëringsforum is tydens die maandelikse vergadering na 'n verkiesing aangewys.

‘n Verkiesing om nuwe uitvoerende bestuurslede vir die Krugersdorp Sektor 8 Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) aan te wys is gister 17 Maart tydens hul maandelikse vergadering by Silverfields Primary gehou.

‘n Klein getal inwoners het die vergadering bygewoon in ‘n area waar die GPF in vyf voorstede naamlik Breaunanda, Factoria, Kenmare, Rangeview Uitbreiding 1 en Silverfields werksaam is.

Hierdie verkiesing word elke drie jaar oor al die Sektore gehou soos die GPF se grondwet bepaal, en word gehou ongeag of ‘n GPF onlangs gestig is soos in die geval van Sektor 9.

Gert Jonker, voorsitter vir al die GPF Sektore in Krugersdorp het die bestuurslede en patrolleerders, wat hulle tyd vrywilliglik prysgee, bedank.

Hy het hulle ook met hul suksesse in die area gelukgewens.

Henry Carson, die herverkose voorsitter het op sy beurt gesê hy is trots om dié sektor te dien. Hy het gesê ten spyte daarvan dat misdaad in die area afgeneem het, is die misdaad wat wel gepleeg word, meer aggressief as tevore.

Sersant Fritz Terblanche van die Krugersdorp Polisiestasie het gesê misdaadsyfers van verlede maand toon ‘n afname van 30 persent in vergelyking met dieselfde tyd verlede jaar.

Huisinbrake het met nagenoeg 70 persent afgeneem.

“Wat wel kommerwekkend is, is die skielike diefstal van waardevolle besittings soos selfone en skootrekenaars uit voertuie; mense moet asseblief onthou om dit buite sig te hou en sulke items eerder in die kattebak of onder die sitplek te bêre.”

Die uitvoerende bestuurslede het basies onveranderd gebly met slegs ‘n paar nuwe aanstellings omdat vorige bestuurslede die GPF nie meer op hierdie vlak kon dien nie.

Die bestuurslede wat die onderskeie poste sal vul is Lindie Breed (ondervoorsitter), June Jansen van Vuuren (tesourier), Sonja Gilliat (sekretaris), Marilyn van der Berg (vise-sekretaris) en Len Coetzer (skakelbeampte).

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button