Skooltasskelm vasgetrek
'n 42-jarige verdagte het in die Krugersdorp Landdroshof verskyn op aanklag van diefstal wat met die verdwyning van skooltasse verband hou.
Na talle skooltasse die afgelope paar weke spoorloos verdwyn het, het ‘n sekuriteitsmaatskappy met die polisie saamgewerk om die vrou wat van die diefstal verdink word, in hegtenis te neem.
Interactive Sekuriteit het ‘n klagte van Laerskool Muldersdrif ontvang dat ‘n sindikaat moontlike betrokke was nadat al hoe meer skooltasse verdwyn het.
In ‘n ondersoek by verskeie skole in Krugersdorp het foto’s van die verdagte en ander inligting aan die lig gekom.
Die maatskappy het op 12 Maart verskeie voertuie by Laerskool Krugersdorp-Noord, Hoërskool Monument en Laerskool Muldersdrift op bystand geplaas, sou die skooltasdief weer toeslaan.
“Die verdagte het na die skool toe aangery gekom toe een van die wagte en polisie haar genader het en haar betrap het met skooltasse agter op haar bakkie,” sê Nantes Rykaart, eienaar van Interactive Sekuriteit.
Die vrou, ‘n ma van drie, is in hegtenis geneem vir diefstal en na die Muldersdrift Polisiestasie toe geneem om ‘n saak te open.
Volgends Rykaart is hulle maatskappy bewus van 28 tasse wat die afgelope tyd gesteel is.
‘n Tydens ‘n ondersoek by die verdagte se huis in Muldersdrift is bewysstukke gevind wat haar verder met die vermiste skooltasse verbind.
Daar word vermoed dat die verdagte die tasse vir ‘n appel en ‘n ei verkoop het.
“Baie dankie vir die samewerking en inligting van Herman Beyleveld en Frikkie Klopper van Laerskool Muldersdrift, sowel as Iza Loubser van Laerskool Kenmare wat gelei het tot die arrestasie van die vermeende skooltasdief,” sê ‘n dankbare Rykaart.
Die verdagte se twee jong seuns was teenwoordig tydens haar inhegtenisneming.
“Muldersdrift Polisiestasie het ‘n klagte van skooltasdiefstal by Laerskool Muldersdrift op 12 Maart omstreeks 11vm ontvang. ‘n Dossier vir diefstal met ‘n beskrywing van die verdagte is geopen en aan die polisie oorhanding vir verdere ondersoek. Speurder Sersant Moraba het die ondersoek gelei en het die 42-jarige verdagte met skooltasse in haar besit voor die skool betrap,” bevestig adjudant-offisier Hiltler Ngwenga, woordvoerder van die Muldersdrift Polisiestasie.
Die verdagte het op 13 Maart in die Krugersdorp Landdroshof verskyn op aanklag van diefstal.
Sy is na bewering uit op borgtog.
