Skoonheid wil ander deur titel help
Hierdie supermens goël haar voltydse werk met deeltyds student wees, is 'n ma van twee en nou ook 'n Mev SA semi-finalis.
Die klein stemmetjie in haar kop het haar aangemoedig om vir die Mevrou Suid-Afrika kompetisie in te skryf en was toe reg want Angelique van der Merwe is as een van die top 100 semi-finaliste gekies.
“Ek wou inskryf vir myself, om ‘n beter weergawe van myself te word,” vertel die pragtige rooikop.
Haar liefde vir ‘n uitdaging en haar wil om nooit op te gee nie het haar gemotiveer om die kompitisie in te skryf.
Vir die afgelope twee jaar werk Angelique saam met De Hoek Country Hotel op die Cupcakes for Hope-projek, en beloof om die jaar nog meer kolwyntjies te maak en verkoop.
Hierdie mamma van twee dogterjies, een in Graad 1 en ‘n twee-jarige peuter, meen dat as sy ‘n super krag gehad het, sou sy graag mense se pyn wou verlig.
Hierdie beeldskone vrou is nie jou alledaagse modepop nie en goël met ‘n voltydse werk, is deeltyds ‘n student en speel die belangrike rol van vrou en ma.
“Ek moet soms nog Graad 1 huiswerk ook in my skedule inwerk,” grap sy.
Sy glo dat vrouens instaat is om meer te kan doen, en wil graag met behulp van die titel vrouens in die gemeenskap en die land aanraak om in hulself te glo.
Om in die publiek veroordeel te word was eens haar grootste vrees, tot die dag wat sy besef om ‘oor’ dit te kom en om die skinderbekke eerder iets waardevol te gee om oor te skinder.
“Ek is ‘n tipiese plaaskind, plat op die aarde,” sê sy terwyl sy haar liefde vir tiervel-motief beskryf.
Omdat sy in die hotelhoudingbedryf werk meen Angelique dat haar grootste versoeking kos is.
“Ek is mal oor kos, ek wil alles net proe en eet.”
Sonder haar selfoon sou hierdie skoonheid nie verder kan gaan nie, en sê dat sy verlore en buite bereik voel.
Maar met ‘n stukkie sjokolade sal jy maklik haar arm mee kan draai.
Sy geniet lees en verkies om artikels op die internet te lees.
“Ek is ook bitter lief vir my gemeenskapskoerant,” vlei Angelique die News-joernalis Marizka Coetzer.
“As ek moet wen wil ek graag die geleentheid gebruik om ander te help, en terselfdetyd myself te help om te verbeter as ‘n persoon. Al kan ek ‘n verskil in net een persoon se lewe maak, sou dit ‘n sukses wees.”
Stem vir Angelique deur haar naam na 35959 te sms of besoek die Mev SA blad op Facebook om haar foto te ‘like’
