[VIDEO]Enkeling-sterre verras hul aanhangers
Twee van die lokettreffer se sterre het aanhangers by die rolprentteater kom verras.
Sedert die plaaslike trefferfilm Ballade vir ‘n Enkeling sy grootskermdebuut verlede week gemaak het, het Krugersdorpers na rolprentteaters gestroom.
Fliekgangers was aangenaam verras toe twee van die fliek se sterre Zak Hendrikz en Luan Jacobs by die opening daarvan by Cradlestone Mall opgedaag het om handtekeninge uit te deel en hulle gesigte vir onsies (meervoud van selfies) beskikbaar te stel.
Hulle het ook ‘n tydjie afgeknyp om met die News te gesels oor hulle ervaring toe die film geskiet is en om ‘n bietjie meer van hulself te vertel.
Zak, wat die rol van die skurk Gavin Greef vertolk, is ‘n koerantredateur met ‘n donker verlede.
“Dit was ‘n lekker uitdaging om ‘n karakter so ver van my eie persoonlikheid te vertolk,” het Zak gesê.
Hy sê hy het al ‘n paar skewe kyke en dreigemente van fliekvlooie gekry nadat hulle die film gesien het.
“Dit is eintlik lekker as die aanhangers my aanvat, want dan weet ek ek het my werk as akteur in die rol bemeester.”
Hierdie talentvolle akteur is geen vreemdeling aan die Wes-Rand nie en bly in Rikasrus net buite Randfontein.
‘n Interessante feit is dat min mense weet Zak boer met donkies.
Luan vertolk die rol van die ikoniese jong Jean-Paul Otto wat saam met die karakter Jacques Rynhard grootword.
Sy karakter was meer soos dié van ‘n passievolle grapjas en hy het die verskillende rolle as emosionele driedimensionele karakters beskryf.
“Die grootste uitdaging was om van die trane en watervalle aan en af te skakel.”
Hy vertel hoe hy op die openingsaand saam met sy gesin na die film gaan kyk het en “almal snot en trane gesnik het”.
Luan is ook binnekort in twee verhoogrolle Sak en Pak en Vettie Vettie te sien.
Het jy al die fliek gesien? Laat weet ons van jou ervaring en of jy dink die Suid-Afrikaanse filmbedryf het ‘n blink toekoms.
