Nog ‘n bejaarde paartjie vrees vir hulle lewens nadat ‘n groep indringers op hulle toegesak het in hul huis in Mindalore. Hulle het vir die news van hulle angswekkende ervaring vertel.
Die 78-jarige Trienkie van den Berg was op Sondagaand 22 Maart reeds in die bed toe sy skielik haar slaapkamervenster sien versplinter het.
“Jan!,” het sy angsbevange geroep toe die eerste verdagte op die bed gespring en op haar geklim het.
“Hou jou bek jou wit teef,” het die man haar beveel voordat hy haar deur die gesig geklap het.
Toe Jan, haar 82-jarige man by die slaapkamerdeur instap, het een van die mans hom met ‘n geweer ingewag.
Hy het toe die geweer teen Jan se nek gedruk en gesê, “Hou jou bek, ek skiet jou vrek”.
‘n Ander indringer het hom toe met ‘n plastiekgeweer oor die kop probeer slaan en hom weer gedreig. “Ek skiet jou vrek ouman, hou jou bek.”
Gelukkig vir die Van den Bergs het ‘n buurvrou wat op haar stoep gestaan het die rumoer gehoor en haar man gaan roep om ondersoek in te stel.
Toe hul buurman by die Van den Bergs se huis aankom het die indringers geskrik, waarna ‘n oor en weer skietery plaasgevind het.
Sowat vyf koeëldoppies is na die insident op die toneel gevind.
Die vier rowers het die bejaarde paartjie van ‘n nuwe televisiestel, drie selfone en tekkies beroof en het in ‘n donkerkleurige VW Polo van die toneel af weggejaag.
“My senuwees is op, ek wil net huil,” sê Trienkie terwyl haar kinders besig was om hulle huis met diefwering te beveilig.
Trienkie verduidelik aan die news dat hulle hulself byna doodgeskrik het toe die venster oopbars. “As dit nag word, raak ek bang, maar dit is my huis, ek bly in my huis.”
Die Van den Berg-paartjie woon al sowat 44 jaar in Mindalore en het gesê dit was die eerste keer dat hulle die teiken van misdadigers geword het.
Lede van die Sektor 9 Gemeenskapspolisiëringforum (GPF) is van die insident in kennis gestel en was binne minute op die toneel.
Hulle het die paartjie gehelp om die venster van die slaapkamer te vervang en het ook hulle ‘n sekuriteitsradio gegee om hulle te help beveilig.
Die Van den Bergs se kinders het dadelik ingespring om die huis te beveilig en te help opruim.
Daar word vermoed dat hierdie insident verbind kan word met ‘n bende gewapende rowers wat huise in die Mindalore-omgewing teiken.
Verwante artikels:
• Mindalore shooting leaves one dead
• Hijacking trend in Mindalore
• Jong vrou in Mindalore gekaap
• Bejaarde in haar huis aangeval

