Grafsteen laat lewendes kopkrap
'n Grafsteen is vir 41 jaar lank ongesteurd gelaat, maar nou laat dit selfs die lewendes wat dit raaklees, kopkrap.
Tommy Tiger Dickson.
Vir 41 jaar lank was sy grafsteen vergete en ongesteurd in die Sterkfontein Begraafplaas.
En só sou dit seker vir jare gebly het – tot die nuuskierigheid oor wat die eintlike betekenis van die skrif op die steen die oorhand oor ‘n terreinagent gekry het. Op die grafsteen is dié reël uit ‘n gedig van die bekende Afrikaanse digter Totius, “O die pyngedagte: my kind is dood!” gegraveer.
Maar die reël wat daarna volg en wat nie deel vorm van Totius se gedig nie, is wat Trevor Fenn laat stilhou het.
Daar staan verder, ” Here vergewe hom, hy weet wat hy gedoen het!”
Trevor vertel hy was besig om terreininspeksie in die Sterkfontein Begraafplaas te doen toe hy die grafsteen van Dickson langs die pad raaklees.
“Terwyl ek stadig deur die begraafplaas gery het, sien ek dié grafsteen, wat amper verlate op ‘n grasperk uittroon.”
Hy het gesê hy het gestop om die grafsteen van nader te bekyk en dit is toe dat hy oor die eintlike dood van Dickson – wie se ouderdom onbekend is omdat sy geboortedag nie bygevoeg is nie – begin wonder het.
“Toe ek dit raaklees was my eerste gedagte, ‘wat het hy gedoen’?”
Eers het hy gedink dit is dalk een van die bankrowers wat tydens die berugte Krugersdorp-tonnelbankroof dood is, maar dié rooftog het na 1977 plaasgevind.
“Met ‘n bynaam soos Tiger klink hy vir my rof; nou wonder ek of hy nie dalk in ‘n kroeggeveg dood is nie.”
Hy is terug werk toe met die foto’s wat hy geneem het en so het die bespiegelings verder lewe gekry. Die foto’s het ook op sosiale media soos facebook verskyn.
“‘n Grafsteen is tog ‘n private ding, maar vir my was dit baie vreemd.”
Weet jy wat moontlik hier gebeur het? Is jy dalk ‘n familielid of ken jy die storie van Tommy Tiger Dickson? Laat weet ons in die kommentaarboksie hieronder.
