Local newsNews

Bosveld en braai is sy ding

Hy besit sy besigheid in Commissionerstraat reeds 18 jaar. Dit het, soos verskeie ander suksesvolle ondernemings, in 'n motorhuis begin. Nick Breet sê dit is sy kreatiwiteit wat tot dié besigheid gelei het.

• Wat doen jy graag Vrydagaande en oor die naweek?

Ek spandeer tyd saam met my vrou; as die weer dit toelaat sal ek swem en om ‘n braaivleisvuur kuier.

• As jy nie ‘n besigheidseienaar was nie, wat sou jou beroepskeuse gewees het?

Ek was vroeër ‘n tegnikus by Telkom, maar ek glo ek sou dan my entrepreneursvaardighede verder opgeskerp het.

• Hoekom het jy besluit om ‘n besigheid te begin wat veral met medaljes en trofeë te doen het?

Kreatiwiteit en ‘n liefde vir kuns het my geïnspireer om medaljes en skoolwapens te maak. Die trofeë en graveerwerk het daaruit gevolg.

• Wat geniet jy die meeste van jou werk en is dit altyd maklik om klante gelukkig te hou?

Ek geniet dit die meeste om ‘n gietstuk te ontwerp soos die klant dit wil hê. Dit is nie altyd maklik om die klant gelukkig te hou nie, maar ek doen beslis altyd my bes.

• Waarom is jy ‘n Krugersdorper?

Ek is hier gebore en sal seker ook hier sterf. Ek het regtig geen begeerte om elders heen te verhuis nie, want die mense in hierdie dorp is baie tegemoetkomend en vriendelik ten spyte van al die probleme wat in die dorp ondervind word.

• Hoe gaan jy hierdie winter warm bly?

Hmmm … gaan dit veilig wees om te sê ek wil op Eskom vertrou dat hulle hul belofte sal nakom om elektrisiteit te voorsien?

• Watter seisoen van die jaar is vir jou die lekkerste?

Daar is nie een seisoen wat vir my uitstaan nie. Ek geniet die hele jaar, maar die gedagte aan Desember bring tog die vreugde van Kersfees.

• Het jy enige stokperdjies?

Ek is baie erg oor my koivisse wat baie aandag verlang. Ek is ook musikaal en hou daarvan om met ‘n klawerbord musiek te maak.

• In watter koffiewinkel of restaurant kuier jy graag?

Ocean Basket of enige restaurant by Silverstar.

• Het jy enige troeteldiere?

Ek het twee Skotse Terriërs genaamd Racal en Sussie.

• Het jy enige spesifieke plek waar jy daarvan hou om stil te raak?

In die bosveld of langs ‘n kampvuur.

• As jy nie by die huis of by die werk is nie, waar sal ‘n mens jou kry?

Ek hou daarvan om saam met my gesin met die woonwa te kamp.

• Waarheen sal jy nog wil reis en het jy enige gunsteling vakansiebestemmings?

Ek wil graag ons land verken, maar verder is ‘n gunsteling vakansie niks anders as een by die see nie.

• Wat is jou gunsteling:

Fliek: Avatar

Musiek: Afrikaans en rock

Drankie: Whiskey

Kos: Beslis braaivleis!

Winkel: Die Key West Winkelsentrum

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button