Ruan het vakansie op sy agenda
'n 'Rowwe' middelpaadjie haarstyl is al wat dié plaaslike ster oor sy nuuste film Dis ek Anna te sê het.
Die Plaaslike sepiester en Hoërskool Noordheuwel matrikulant Ruan Wessels het sopas nog ‘n groot rol agter die rug en het sy naskoolse planne met die News tydens ‘n heerlike besoek gedeel.
Behalwe dat Ruan vir die vyfde jaar sy verskyning as Morne in die gewilde KykNET sepie Binnelanders op die kleinskerm maak, het hy ook onlangs ‘n rol in die opkommende rolprent Dis ek Anna losgeslaan.
“Dit was ‘n ongelooflike ervaring om deel te kon wees van so ‘n groot produksie,” sê Ruan trots.
Ruan wou nie veel verder oor die rolprent sê nie behalwe dat sy aanhangers daarna kan uitsien om hom met ‘n ‘rowwe’ middelpaadjie haarstyl te sien.
Die ster, wat ons op die kleinskerm sien groot word het, skryf nie net vanjaar sy matriek nie, maar het sy Binnelanders kontrak hernu en het ‘n paar moontlike films in die pyplyn; een wat reeds gefinaliseer is.
“Al het ek baie goed op my bord, is alles ok, die Here help my,” sê hy.
Ruan verskyn ook op ons skerms in die Lays-skyfies advertensie as die seun wat vir Suid-Afrika se krieketspan kaptein, AB de Villiers, vir raad vra en dan sy skyfies steel.
“Die was ‘n baie lekker advertensie om te skiet. Ons het heeldag saam gelag en rond gespeel.”
Hy beskryf AB as ‘n baie nederig persoon en het die eer gehad om middagete saam met die Proteas speler op stel te eet.
Na matriek beoog Ruan om ‘n blaaskans-jaar te vat om net bietjie skaatsplank te ry en op sy opnames te fokus, “Hopelik is daar tyd dat ek Amerika ook kan besoek.”
Kungfu Wudang Wushu is ook een van sy stokperdjies en hy het onlangs ‘n brons-medalje by die Kungfu Wêreldkampioenskappe in China verlede Oktober gewen.
Sy visie vir sy loopbaan is om rolle los te slaan wat hom instaat stel om emosioneel te groei en hy kan nie wag om meer ernstiger rolle aan te vat nie.
Soos talle ander het Ruan ook Ballade vir ‘n Enkeling gaan kyk en sê dit is ‘n uitstekende film.
Verder vertel hy aan die News dat hy graag na sy blaaskans-jaar in ‘n skryf rigting wil gaan swot omdat hy graag eendag sy eie tonele wil skryf.
Maar vir nou sien hy uit na die Paasnaweek waar hy kwaliteit tyd saam met sy gesin kan deurbring en dalk bietjie skaatsplank ook kan ry, spot hy.