‘n Buurt besmet met dwelms, drank en armoede is volgens die lede van Sektor 5 se Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) ‘n resep vir ‘n ramp.
Die News was uitgenooi om saam met dié lede op 2 April die strate te patroleer tydens ‘n bewustheidsveldtog.
Die spesiale operasie het in samewerking met plaaslike polisie afgeskop waar ‘n gesinsgeweld geval, waar mede-inwoners mekaar op straat aangevat het en mekaar met fisiese geweld gedreig het, eerste op die agenda was.
Die perseel was geondersoek en die operasie het voort geduur.
Verder het die span verskeie verdagte huise ondersoek waar die verkoop en misbruik van onwettige dwelms plaasvind.
Alhoewel daar nie genoeg bewyse gevind is om arrestasies te maak nie, was dit duidelik dat die gebied ‘n dwelm epidemie in die gesig staar.
Appelpark, of Blikkies soos wat die plek na verwys word, was die laaste besoek vir die aand.
Die naguile was baie aktief in die strate en het heeltyd op en afbeweeg soos wat die News, die GPF-lede en polisie die strate stadig ingery het.
Skielik uit die bloute fluit ‘n jong man ‘n beweerde waarskuwings-geluid terwyl hy spoedig omdraai in ‘n poging om die ander naguile te waarsku teen die GPF en polisie se onverwagse besoek.
Soos die groep in die gebied in beweeg hoor hulle hoe verskeie fluit-geluide van straathoek na straathoek weergalm soos wat moeilikheidmakers mekaar na bewering waarsku.
In hierdie strate is dit glad nie ‘n vreemde gebeurtenis om op die hoeke te staan en drink met harde musiek in die agtergrond nie, kla ‘n paar afgetreede inwoners.
Die GPF van hierdie area meen dat die dwelmmisbruik en misdaad wel afgeneem het serdert die stigting van die forum alhoewel hulle steeds hard werk om die area te beveilig.
Met patroleerders wat daagliks patroleer vir sigbaarheid en aanhoudende spesiale operasies uitvoer, beloof die forumlede om ‘n verskil te maak.
