Kleinvalleiers verbeter hul lewe stuk vir stuk
Dié voormalige Kroningspark inwoners sê hulle lewe het reeds verbeter sedert hulle op Kleinvallei gaan bly het.
“Dit gaan beter, baie beter!”
Só het Paul Marais, ‘n inwoner van Kleinvallei Landgoed langs die R24-Tarltonpad (oorkant die Krugersdorp Wildtuin) gesê sedert hy en sowat 80 ander inwoners verlede jaar uit Kroningspark, die bekende witplakkerskamp in Krugersdorp, moes trek.
Hy was een van die inwoners wat verlede jaar kon kies of hy wil trek na Munsieville of Kleinvallei, ‘n opbouingsprojek wat onder andere deur Sunette Bridges, ‘n Afrikaanse sanger en ‘n kampvegter vir die Afrikaner, begin is.
“Die dae van slap wees is verby, as jy hier bly dan beteken dit jy wil iets van jou lewe maak – dit beteken jy wil ‘n beter mens word as die een wat jy was,” het Marais gesê.

Reëls, verduidelik hy, is steeds daar, maar dit is baie meer toegeeflik as die reëls wat hulle in Kroningspark moes volg.
“Hier is verskeie reëls ingestel sodat ons mekaar eerder kan opbou, sonder reëls sal ons verlore wees, want dit is ‘n manier om dissipline onder volwassenes en kinders te handhaaf.”
Dié reëls sluit, ondere ander, die verbod op dwelms- en alkoholverbruik en bedelary in.
“Om bedelary te verhoed is daar besluit dat ons as inwoners eerder elke Saterdag ‘n markdag hou waar ons selfgemaakte goedere aan die publiek vir ‘n inkomste verkoop,” het Marais gesê.

Van die geld wat dan gemaak word, word R200 per maand aan die kombuis, waar hy in beheer is, afgestaan.
“Dit is om die mense te leer dat alles in die lewe nie gratis kan wees nie, maar ook om te verhoed dat hulle ongesonde kos eet.”
Met dié geld kry inwoners drie voedsame etes daagliks.
“Inwoners wat regtig nie geld het nie, word deur Bridges gesteun totdat hulle selfonderhoudend is.”
Denise Harrington, nog ‘n inwoner, het gesê hulle as inwoners ondersteun en help mekaar waar hulle kan sodat almal wat hier bly kan verbeter.
“Daar is ‘n inwoner wat ‘n voertuig het en daarmee help hy om kruideniersware aan te koop en om mense na plekke soos hospitale te vervoer.”
Al bly hulle tans steeds in tente terwyl hulle wag dat bouwerk aan hulle huise afgehandel word, het sy gesê is dit reeds ‘n verbetering op dit waaraan hulle gewoond was.

Hier is ook tydelike ablusieblokke geïnstalleer met warm water vir storte. Die water is van ‘n boorgat afkomstig.
“Ons het dit voorheen nie gehad nie. Baie van ons moes tóé staatmaak om self die water warm te kry deur gebruik te maak van vuur wat ons self moes stook,” het Harrington gesê.
Ook die goedere wat hulle inkry gaan nie verlore nie.
“As daar iets is, soos klere wat nie meer gedra kan word nie, dan omskep ons dit in goedere wat ons kan verkoop,” het Marais gesê.
Om self te sien wat die Kleinvalleiers aanvang nooi hulle die publiek uit om hulle elke Saterdag van 10vm tot 4nm te besoek waar koffie, ander lekkernye en geselskap reeds wag.
Vir meer inligting kontak vir Marais by 076 681 1850 of vir Harrington by 061 093 9691.

