Drie leerlinge van Hoërskool Noordheuwel het onlangs stof in ander deelnemers se oë geskop by die nasionale Talent Africa kompetisie wat in die Roodepoort (voorheen Promusica) Teater plaasgevind het.
Anika Loubser, Charné von Gordon en Duané Swanepoel se uitstaande optredes het gesorg dat hulle Suid-Afrika van 5 tot 17 Junie in New York by die Talent America kompetisie – die internasionale rondte van die kompetisie – sal verteenwoordig.
Hierdie drie Nories het hulle Gauteng-kleure, SA-kleure, sertifikate en die volgende medaljes en toekennings ontvang:
• Anika Loubser (Graad 9)
10 gouemedaljes (Drama: 6, Sang: 1, Model: 3)
7 silwermedaljes (Drama: 4, Model: 1, Dans: 2)
1 bronsmedalje (Sang: 1)
• Charné von Gordon (Graad 8)
4 gouemedaljes (Drama)
1 silwermedalje (Drama)
• Duané Swanepoel (Graad 8)
3 gouemedaljes (Drama)
4 silwermedaljes (Drama)
Hierdie drie divas is ook aangewys as die Beste Senior Groep in die kompetisie.
“Ons het geswoeg en gesweet want tyd vir repetisie was daar nie altyd nie. As dit nie netbal was nie dan was dit hokkie, of koorkamp, of groentjiekonsert. So tussendeur het ons naweekure ingeploeg. Menigmale in die aande en saam met beurtkrag en kerse was hulle gereed om die verhoog aan te durf. Danksy hulle deursettingsvermoë, toegewydheid en spontane talent, is ek is trots om te sê hulle is deel van my ateljee,” het Linda Theron, trotse drama-afrigter gesê.
