Sterre hang uit in Krugersdorp-kroeg
Vreemde beweging voor ikoniese Krugersdorp-hotel stuur die News op 'n soektog na antwoorde.
Talle in die dorp moes weer ‘n bietjie kopkrap oor hoekom daar ‘n filmspan by die ikoniese Herberg Hotel in Kommissarisstraat was.
Die News het weer gaan inloer en was aangenaam verras om ‘n handjievol bekende akteurs daar aan te tref.
Die News ontmoet toe Enel Viljoen, lynvervaardiger van die gewilde kykNET-reeks en film Getroud met Rugby in een van die kamers waar hulle die akteurs aantrek.
Enel het bevestig dat hulle die gewilde Afrikaanse drama se vyfde reeks weer hier in Krugersdorp skiet. Die span was in 2008 laas in die dorp.
Nadat talle kykers op ‘n opvolg aangedring het, het kykNET besluit om voort te gaan met die reeks aangesien dit ook vanjaar die Rugby Wêreldbekertoernooi is.
Die kroegtoneel in ‘Pottie se Plek’ is nog elke keer hier in die dorp geskiet.
Kleinskermsterre soos Hanna Grobler, Altus Theart, Marlon Roelfze en JC Snooke was buite die kroeg om asem te skep wanneer hulle nie voor die kamera was nie.
Die span het twee dae lank by die hotel geskiet en sal weer in Junie in die dorp wees voor die première van die reeks op 14 Julie plaasvind.
Die Herberg Hotel se kroeg was die perfekte keuse vir die reeks se kroegtonele omdat dit by hulle kreatiewe uitleg inpas.
“Dit lyk eenvoudig net reg,” verduidelik Enel wat nie veel meer oor die nuwe reeks wil uitblaker nie.
