Katya doen dit weer
Katya Ludick het verlede jaar reeds toekennings met haar ontwerpe ontvang en is reeds besig om verdere opslae met haar kunstalent te behaal.
‘n Graad 9-leerling van Hoërskool Noordheuwel is besig om opslae met haar kunstige ontwerpe te maak.
Katya Ludick het onlangs ‘n tweede plek in die Toyota Droomkar-kunskompetisie behaal, ‘n groot prestasie nadat sy teen nagenoeg 9 000 ander inskrywings in haar ouderdomskategorie van 12 tot 15 jaar meegeding het.
Die kompetisie het van die jong deelnemers verwag om ‘n kar te ontwerp wat enige iets kan doen soos hulle daarvan droom en Katya het haar kar die ‘Chameleon Rider’ genoem.
Sy het gesê dit is ‘n kar wat van organiese materiaal vervaardig word, dit kan teen ‘n spoed soos die wind ry en verander ook van kleur soos die kar van spoed vermeerder of verminder.
Haar wen-inskrywing maak haar dus ook ‘n Suid-Afrikaanse finalis wat nou met nog ander finaliste van oor die wêreld gaan kan meeding nadat haar oorspronklike werk reeds in Japan vir keuring gestuur is.
En nou is dit ‘n wagperiode van sowat twee maande voordat hulle sal kan hoor of sy die keuringsproses maak om verder in die kompetisie te kan gaan.
Verlede jaar was haar naam nie net om almal se lippe nie, maar ook op miljoene Google verbruikers se rekenaarskerms nadat haar ‘doodle’ ontwerp op die Suid-Afrikaanse tuisblad van die aanlyn soekenjin verskyn het.
Sy het stof in 100 ander leerlinge van regoor die land se oë geskop met haar onderwerp wat merendeels handel oor die feit dat die mens diere van uitwissing moet beskerm.
Die News-span wens haar alle sterkte toe met die kompetisie en hoop sy sal nog ‘n string pryse en titels inryg.`
