Ons diskus kampioen maak opslae
"Alles wat ek bereik het is deur die genade van God."
Krugersdorp se diskus kampioen Leandri Geel het nog altyd daarvan gedroom om eendag die groen en goud vir Suid-Afrika te dra – en sy is stuk-stuk besig om haar droom te bewaarheid.
Dié leerling van Hoërskool Monument, wat die titel as die Sporthoof by haar skool dra het gewys dat ‘n mens steeds sukses kan behaal deur harde werk ten spyte van ‘n baie emosionele tyd in haar lewe.
“My pa het verlede jaar skielik baie siek begin word en ‘n gedeelte van sy long moes verwyder word. Tussendeur het hy ook ‘n beroerte gehad waarna hy met limfklierkanker, vlak 4, gediagnoseer is.”
As gevolg daarvan kan hy nie meer van haar byeenkomste bywoon nie.
Haar suksesverhaal het reeds ses jaar gelede begin toe Pierre Blignaut haar begin afrig het en sy is sedertdien elke jaar die SA Diskus dogters- asook die nasionale SA Subjeug-, Jeug- en Juniorkampioen.
“Vandat ek by Pierre begin oefen het het hy my geleer om ‘n wenner te wees, maar om dit te kan doen moet jy vir Jesus in jou hart hê – hy is dus meer as net my afrigter.”
Leandri het vanjaar aan die SA Skole o.19-dogtersdiskus kompetisie deelgeneem waar sy as die Juniors Diskuskampioen weggestap het.
Onlangs het sy die geleentheid gehad om aan die Suid-Afrikaanse Seniorskompetisie deel te neem waar sy ‘n bronsmedalje verower het. Sy het ook reeds verskeie diskusrekords geslaan en word ook die eerste atleet in die geskiedenis van die Tuks Top 10 wat al vyf jaar se diskusrekords vir dogter hou – van o.14 tot o.19.
Sy het Suid-Afrika in 2013 by die Wêreld Jeugatletiekkampioenskappe verteenwoordig waar sy ‘n algehele sewende plek in die wêreld vir diskus in die kategorie vir meisies behaal het.
Die daaropvolgende jaar verteenwoordig sy weer haar land by die Afrika Spele waar sy vir die Jeug Olimpiese Spele in China kwalifiseer na haar sege. By die Olimpiese Spele verwerf sy die sesde plek.
In dié jaar word sy ook gekies om Suid-Afrika by die Junior Wêreld Kampioenskappe in die VSA te verteenwoordig waar sy die jongste atleet in haar span was.
En al het Leandri teen meisies deelgeneem wat maklik twee jaar ouer as sy was, het sy die 22ste plek in die kampioenskappe behaal.
“Alles wat ek intussen bereik het is deur die genade van God,” het sy gesê.
