CrimeNews

Geroof deur blondekop-duimgooier

"Ry of hulle skiet jou vrek," sê die blondekop vrou aan haar slagoffer.

‘n Man van Krugersdorp vrees nou vir sy lewe nadat sy goedhartigheid hom byna sy lewe gekos het.

Die man, wat liefs anoniem wil bly, en sy vrou het aan die News verduidelik hoe hy byna sy lewe verloor het toe hy ‘n blondekop vrou, wat duim gegooi het, voor ses die oggend van 21 April in Viljoenstraat opgetel het.

Soos gewoonlik was die man oppad werk toe toe die vrou langs die pad duimgegooi het. Die man het dit goed gedink om stil te hou om vir haar ‘n saamry geleentheid aantebied, iets wat hy nog nooit van tevore gedoen het nie.

Die volgende oomblik ruk en pluk iemand aan sy deur en drie gewapende mans spring skielik agter op sy bakkie.

“Ry net en as jy enige iets probeer doen sal hulle jou vrek maak,” het die netjies aangetrekte vrou aan die man gesê.

Met die gewapende mans agter op die bakkie, het hulle by die petrolstasie op die hoek van Viljoen- en Cecil Knightstraat in gedraai waar die vrou hom na die parkeerarea van die groentewinkel geneem het.

Die drie gewapende mans het eenkant gestaan en die vrou het die man na die OTM toe vergesel.

‘n Sekuriteitswag nader toe die vrou en vra of alles onder beheer is waarop sy reageer, “Hy het saam my geslaap en nou gaan hy betaal daarvoor”.

Nadat die transaksie onsuksesvol was het die slagoffer nege PCM’s (please call me’s) na sy vrou se selfoon gestuur.

Sy vrou bel toe onmiddellik terug waarna hy vir haar vra om R450 na die petrolstatsie toe te bring sodat die gewapende mans hom nie moet dood maak nie.

Die blondekop vrou en man is toe terug na sy bakkie waar hulle wag vir sy vrou om te arriveer met die geld.

Op die ingewing van die oomblik het die slagoffer sy karsleutels gegryp en vinnig na die sekuriteitswag gehardloop om na hulp te vra.

Die vrou en haar drie gewapende trawante het toe per voet padgegee en spoorloos verdwyn.

Sy skoonsuster en sy twee broers het binne minute na sy redding gekom en die slagoffer is sy besittings, wat sy geld in sy beursie, ‘n sakmes en bril insluit, kwyt.

“Ons is net baie dankbaar dat my man veilig is en wil graag die gemeenskap waarsku teen die boewe en die blondekop vrou wat my man se lewe in gevaar gestel het,” verduidelik die slagoffer se besorgde vrou.

Sedert die insident is ‘n saak by die polisie aanhangig gemaak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button