Local newsNews

Rugby en ‘n verhouding met God hier van toepassing

Manne van die Woord, ‘n interkerklike gebeds- en ondersteuningsgroep het onlangs ‘n kuiergeleentheid met voormalige Springbokke gehou.

Daar was biltong geeët en rugby gepraat, maar by hierdie kuiergeleentheid was God die fokuspunt.

Manne van die Woord, ‘n niewinsgewende interkerklike gebeds- en ondersteuningsgroep wat begin is vir Suid-Afrika se mans, het onlangs ‘n Bok-en-biltongaand by die Big 5 in Protearif gehou.

Hier het drie voormalige Springbokke Ollie le Roux, Jannie de Beer en Rudi Vleis Visagie aan sowat 200 mans vertel hoe God hul lewens aangeraak het nadat ‘n verhouding met Hom begin is.

Elkeen van dié Springbokke het iewers in hulle lewe ‘n moeilike paadjie gestap, maar nadat hulle God as verlosser aanvaar het, het hulle lewe handomkeer verbeter en verander.

Dawie Spies, die President van die ondersteuningsgroep het gesê daarom is die geleentheid ook in Krugersdorp gehou.

“Ons wil vir die manne van hierdie dorp bid en hulle weer help om hul verhouding met hulle hemelse Vader weer reg te kry.”

Onder die gaste was die bekende grapjas Leon Schuster en sy seun Ernest, wat ook die afgelope tydperk ‘n bietjie moed van die gemeenskap benodig nadat hy self deur die kloue van depressie is.

Dawie het gesê die ondersteuningsgroep het agt jaar gelede onder ‘n boom in Pretoria met vyf manne begin.

“Daar was net gebid en so is die saadjie geplant toe ons besef dat daar eintlik ‘n baie groter nood daar buite is – ‘n nood wat net deur manne self aangespreek kan word.”

Vandag spog hierdie groep met nagenoeg 70 takke oor die land en hulle visie is om binne die volgende sewe jaar 600 takke te hê. Daar is reeds ook 20 Vroue van die Woord-takke.

“Ons misie vir veral Suid-Afrika se manne is om hulle te help sodat hulle weer hul regmatige posisies by die huis, hul werksplekke, gemeentes en by hul gemeenskappe kan inneem en self aanspreeklikheid aanvaar vir hul dade en besluite.”

Verskeie rugby memorabilia is deur die aand opgeveil wat deel vorm van die ondersteuningsgroep se finansies om dit aan die lewe te hou.

Vir meer inligting oor die Manne van die Woord kan André Barnett by 083 309 4459 gekontak word. Hulle kan ook by Voortrekkerweg 172 in Facroria besoek word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button