Kaskarwedrenne weer ‘n hoogte punt
Laerskool Krugersdorp-Noord het onlangs hulle jaarlikse Kaskardag gehou as deel van 'n fondsinsamelingsinisiatief.
Dit was ‘n dag van skaterlag en speel soos leerlinge van Laerskool Krugersdorp-Noord al hulle energie op die sportveld tydens die jaarlikse Kaskarwedren verbrand het.
Die aktiwiteite het reeds van vroeg af begin met die leerlinge wat gekyk het wie gaan koning van die Kaskarbaan kraai.
Leerlinge het daarna ‘n ander wêreld betree toe hulle in Graadverband soos karakters uit spesifieke bekende televisieprogramme en rolprente soos The Lion King, Flintstones, Mickey Mouse, Spongebob Squarepants, Smurfs, Batman en Minions moes aantrek.

Christa Rossouw, skoolwoordvoerder het gesê daar was ook ‘n gepaste liedjie waarop die leerlinge dan gedans het.
Verskeie kosstalletjies soos boereworsrolle en kerrie-en-rys wat deur onderwysers en ouers beman is, is aan die honger klomp verkoop.
Sy het gesê vir die meer avontuurlistiges was daar ‘n aantal speletjies soos waterballongooi, die meganiese bul en waterglybane gewees.
Vir dié wie se energievlakke nog nie uitgeput was nie, was springkastele net die regte medisyne.

“Hierdie is een van ons jaarlikse fondsinsamelingsinisiatiewe en hierdie jaar het ons besluit om die geld te gebruik om ekstra toiletgeriewe vir veral ons ouers en ander besoekers langs die saal te bou en met die ekstra geld wil ons die onderwysers se toiletgeriewe opknap.”
