[VIDEO] ‘n Mylpaal bereik na hy 100kg afskud
In Mei verlede jaar het John Barnardt met hoop by Sportcon ingestap waar hy toe nog 'n allemintige 302kg geweeg het.
Hy wou al soveel keer moed opgee, maar dan dink hy oor hoe baie ander vir hom opgeoffer het.
John Barnardt, is dalk nou nog bekend as Big John, maar nadat hy reeds 100kg afgeskud het en nou na nog ‘n verdere 80kg mik is dit duidelik dié bynaam gaan dalk ook nog binnekort waai.
Op 7 Mei verlede jaar het John met hoop by Sportcon gimnasium in Monument ingestap waar hy toe nog ‘n allemintige 302kg geweeg het.
Hy het geweet hy sal self iets aan sy voorkoms moet doen en met die hulp van Etienne du Bruyn, ‘n Sportcon-instrukteur wat self deur die emosionele pyn van oorgewig is, het hy hom stuk-vir-stuk gehelp om van die oortollige gewig ontslae te raak.
“Ek het eers gedink hoe gaan hulle my kan help, maar toe ek Etienne se storie hoor het ek gevoel daar is ‘n kans vir my en vandag voel ek eintlik fantasties, want ek kan nou soveel dinge doen – meer as wat ek ooit kon droom,” het John gesê.
Voorheen kon hy skaars ‘n paar tree gee dan is hy moeg. Hy het ook moeilik snags geslaap omdat sy rug hom probleme gegee het. Vandag kan hy stap sonder dat die moegheid hom inhaal en het gesê sy rugprobleme is ook iets van die verlede.
“Op die oomblik sukkel ek met jig (gout), ‘n tipe artritis, in my bene. Die dokters het gesê dit het te doen met die vinnige gewigsverlies. Dit het veroorsaak dat ek party dae nie kon oefen nie.
“Ek sit eerder met hierdie voordat ek weer weeg wat ek voorheen geweeg het of ander probleme het soos om met bloeddruk of rugpyne te moet sukkel.”
En as ‘n mens dink dit was maklik om die gewig af te skud, keer John gou.
“Om die eerste 50kg te verloor was beslis maklik, maar die 50kg daarna was beslis nie kinderspeletjies nie. Dit was al so erg dat ek net wou opgee, want maande het verby gegaan waar ek net nie verloor het nie en dan het ek gedink ek het seker die hoeveelheid kilogram wat ek kan verloor, bereik.”
Maar met die hulp van veral sy gesin en sy vrou Cindy wat saam met hom kom oefen het vir ondersteuning het hy deurgedruk en selfs 116cm om sy middel afgeskud.
“Ek het die eerste stap geneem om ‘n beter pa vir my kinders en ‘n beter man vir my vrou te wees en ek sal aanhou oefen tot ek my mikpunt gewig van 150kg gehaal het,” het hy gesê.
As ‘n groot rugby ondersteuner is hy opgewonde om binnekort sy seun se rugbywedstryde te kan bywoon en dink self daaraan om volgende jaar weer sy lyf rugbyspeler te hou deur by ‘n klub aan te sluit.
“Daar is soveel vir my gedoen en ek gaan anhou om my beste in die gimnasium te gee, want dit is al manier hoe ek dié mense wat in my glo kan terugbetaal.”
Hy het gesê vir mense wat soos hy is, is oefening en gesond eet al opsie.
“Ongelukkig is daar nie ‘n wondermiddel waar jy jou gewig binne ‘n rekordtyd gaan afskud nie – dit gaan net oor hoeveel werk jy insit.”
Verwante artikels:
• Oefen en sweet is man se kos
• Sê totsiens vir groot klere by die gim
