Monument wat gestorwenes herdenk lank al vervalle
Dié monument, wat gestorwenes van die Eerste Wêreld Oorlog herdenk, is reeds lank voor die landwye herrie oor gedenkwaardighede gevandaliseer.
Vandat die standbeelde van Paul Kruger en JG Strijdom langs die Monument Dam met rooi verf gevandaliseer is, is daar na die toestand van ander monumente in die dorp bekyk.
Een so ‘n monument langs die Krugersdorp Biblioteek, is reeds lank voor die landwye herrie oor gedenkwaardighede, wat uit die koloniale- en apartheidsera ontketen is, gevandaliseer.
Presies 93-jaar gelede op 6 Mei 1922 het Luitenant-Generaal Sir Jacob Louis van Deventer, ‘n Suid-Afrikaanse militêre bevelvoerder dié monument se steen gelê ter nagedagtenis aan die soldate wat in die Groot Oorlog, ook bekend as die Eerste Wêreld Oorlog, gesneuwel het.

Hierdie monument met die name van honderde soldate op asook die kanon wat voor dit gemonteer is, is reeds lank voordat gedenkwaardighede soos standbeelde geskend en gevandaliseer is, beskadig.
Woorde is op die kanon se loop met ‘n skerp voorwerp ingegraveer en daar is selfs woorde met spuitverf daarop aangebring.
Hierop het Mpho Seiphemo, 23, en ‘n vriend Convetite Nedzanani, 25, gesit waar hulle die laaste bietjie herfsson voor die koms van die winterseisoen geniet.
By die monument het ‘n man op die steen wat deur Van Deventer gelê is, gesit en koerant lees.

Orals is daar opgemerk dat van die teëls by die voetstuk van die monument weg, beskadig of los is en dat woorde ook op die monument met spuitverf aangebring is.
Die duiwe skarrel tussen die rommel, wat oral gestrooi is, rond vir iets om op te pik.
Jakkie Naudé, DA-wyksraadslid vir die area het gesê hy sal die toestand waarin die monument tans is weer met die raad bespreek en skryf die vandalisering toe as laksheid van die Mogale City Stadsraad wat vir die versorging en instandhouding verantwoordelik is.
Amanda de Lange, Vryheidsfront Plus-raadslid vir Mogale City het gesê sy het klaar met die munisipaliteit kontak gemaak waar sy van hulle wil weet wie verantwoordellik is vir die nodige instandhoudingswerk van hierdie en ander monumente in die dorp.
Nkosana Zali, munisipale woordvoerder kon nie vir kommentaar bereik word nie.
• Bykomende bron: Wikipedia en eie besoek aan monument.
Verwante artikel:
• Wie is Lieutenant-Generaal JL van Deventer

