Local newsNewsSchools

Noordskool gee om vir sy gemeenskap

Laerskool Krugersdorp-Noord het met die hulp van sy leerlinge 21 kartonbokse vol skenkings aan die Wes-Randse Vereniging vir Persone met Fisiese Gestremdhede oorhandig.

Nadat Lulu Potgieter, ‘n onderwyseres van Laerskool Krugersdorp-Noord die Wes-Randse Vereniging vir Persone met Gestremdhede (WRAPDse nood raakgesien het, wou sy betrokke raak en help.

“My seun het verlede jaar as deel van ‘n fondsinsamelingsinisiatief by die WRAPD se perseel gaan toutrek en daar het ek gesien hoe min die ondersteuning van die publiek is.”

En só het dit toe gebeur dat sy gevoel het sy moet op haar manier ‘n bydrae lewer deur die skool en sy leerlinge te betrek.

“Ek kon sien dat hulle enigiets sou waardeer en dit was duidelik dat daar ‘n groot nood vir toiletware is, daarom het ek besluit ons moet so dit insamel.”

Daarna is Omgeeweek by die skool gehou waar elke graad die geleentheid gekry het om sewe kartonbokse vol goedjies te pak.

“Maar die leerlinge het toe so baie gebring dat ons 21 sulke kartonbokse kon volmaak – dit was so goed ontvang dat ek amper nie eers meer stoorplek vir als gehad het nie,” het Lulu gelag.

Sy het gesê dat sy beslis daarna kyk om hierdie Omgeeweek ‘n jaarlikse instelling te maak.

Annalene Rossouw, WRAPD-direkteur het op haar beurt gesê dit wat die skool vir hulle gedoen het is ongelooflik.

“Toiletware is een van ons grootste uitgawes en met hierdie skenking sal ons daardie geld op ander belangrikhede kan gebruik.”

Die toiletware uitgawes vir die inwoners wat by hulle perseel in Wheelerstraat in Oatlands woon kos die WRAPD tot R3 000 per maand.

“Ons gaan die ekstra geld gebruik om ons dagsorgprojek in Randfontein by te staan.”

Sy het gesê sy kan nie wag om die inwoners se gesigte te sien wanneer die toiletware onder hulle verdeel gaan word nie.

Lulu het bygevoeg dat sy graag elke ouer en onderwyser wat betrokke geraak het vir hulle insette wil bedank.

“Dit gaan beslis vir ‘n goeie doel!”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button