Local newsNewsUpdate

[FOTO’s] Herfsmark bring vreugde en vernuwing

Vroue het die geleentheid gekry om weer met mekaar te verbind.

Dit blyk of die herfsmark wat deur vyf vroue oor Moedersdag-naweek in ‘n huis in Kenmare gehou is, ‘n reuse sukses was.

Met die reuk van koffie en vars gebakte lekkernye wat in die lug hang, kon besoekers deur verskeie stalletjies stap wat onder andere handewerk, juweelstukke, klere, sakke, skilderye, kleipotte en ‘n ietsie vir ma te koop aangebied het.

Die sanger Johan Liebenberg het ‘n keurspel van Neil Diamond se musiek gesing terwyl verskeie gelukkige trekkinge gehou is.

Daar was ook ‘n wynproe geleentheid waar vroue hulle aan die verskillende beskikbare kase en wyn kon smul.

Sonet Guy, een van die organiseerders het gesê die opbrengste van kaartjie verkope hiervan gaan gebruik word om ‘n behoeftige vrou weer spesiaal te laat voel.

“Ons het so 50 briefies met name van vroue ontvang en met die sukses van die naweek kan ons selfs dalk nog twee vroue vir ‘n bederf- en mooimaaksessie wegstuur.”

Sy het gesê maklik 400 mense het die herfsmark bygewoon.

“Die weer het ons so bietjie kriewelig laat voel, maar ons is dankbaar dat dit sonskyn dae was!”

Lea Small, Sussie Ncube en Dollie Balt, wat lekkernye verkoop het, het die sukses bevestig.

“Al ons voorraad is tydens die eerste dag reeds uitverkoop dat ons daardie nag vinnig te werk moes gaan om ekstra voorraad te maak.”

“Ons het al baie markte bygewoon en hierdie was beslis een van die beste markte wat ek tot dusver al bygewoon het,” het Lea gesê.

Corné de Jager wat juwele verkoop het, het gesê die ondersteuning van die gemeenskap was vir haar ‘n verrassing.

“Ek kon nie glo hoeveel mense hierheen gekom het nie. Die atmosfeer van hierdie mark was beslis reg vir die tipe goed wat ek verkoop het.”

Sonet het gesê hulle gaan beslis weer só ‘n tipe mark hou.

“Ons dink daaraan om dit ‘n jaarlikse instelling te maak omdat die mark gehou word om vroue die geleentheid te gee om weer met mekaar te verbind en ook om ‘n vrou (of twee) weer haar selfbeeld terug te gee.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button