[FOTO’s] Winter Kersfees vir kindertjies
Minderbevoorregte kinders van Laerskool Dr Havinga in Witpoortjie, Laerskool Krugersdorp-Noord en die Mug en Tree Gemeenskapsorgsentrum is uitgenooi.
Altesaam 120 minderbevoorregte en mishandelde kinders van regoor die Wes-Rand is met ‘n prettige winter Kersfees by Nunu Bugs in Ruimsig bederf.
Karien Starke van IDA Care Foundation, ‘n geregistreerde openbare voordeelorganisasie van Florida, Roodepoort het kinders van Laerskool Dr Havinga in Witpoortjie, Laerskool Krugersdorp-Noord en die Mug & Tree Gemeenskapsorgsentrum uitgenooi.
“Winter is oppad en ons weet hoe moeilik dit is om dan in die koue buite te wees, daarom het ons die kinders net so voor die winter sy kloue uit het kom bederf,” het sy gesê.
Die kinders het die kans gekry om verskeie lekkernye te eet en koeldranke te drink soos hulle al hulle energie op die springkastele uitbaljaar of mekaar gejaag het.
Daar is ook vriende met die twee ponies gemaak soos die kinders kans gekry het om hulle te voer.
“In samewerking met die skole en met Mug & Tree is kinders wat ‘n swaar lewe lei geïdentifiseer. Ons doel is om te sorg dat hulle ‘n warmer winter het hierdie jaar,” het Karien gesê.
“Baie was opgewonde oor die goedjies in die geskenkpakkie wat ons aan die einde van die dag aan hulle uitgedeel het – dinge soos tandepaste en seep wat ons as vanselfsprekend aanvaar.”
Pieter Wessels, Hoof Uitvoerende-beampte vir die organisasie het gesê hulle is bly om ‘n verandering in kinders se lewe te bring, al is dit net met dag uitstappies soos hierdie.
“Dit beteken die wêreld vir die kinders.”
Hy het gesê die organisasie, wat drie jaar gelede begin is, word finansieel deur onafhanklike motor industriële maatskappye onderhou wat ‘n deel van hul winste by die organisasie inploeg.
“As gevolg daarvan kan bydraes op ‘n nasionale vlak aan verskeie instansies wat met mishandelde en minderbevoorregte kinders werk, gemaak word.”
Die organisasie is werksaam oor die hele Suid-Afrika en het 58 voltydse werkers en verskeie vrywilligers.
