[FOTO’s] Pit bullterriër byt-slagoffer moet werk al het sy pyn
Slagoffer onthou nog die dag asof dit gister was en het verduidelik dat sy amper by haar werksplek was toe die honde by die erf uitgeglip het.
Die emosies raak soms nog te veel vir Elizabeth Motsumi, 53, wat vroeër vanjaar meters van haar werksplek in Monument deur twee pit bullterriërs aangeval is.
Tydens die onderhoud moes haar werkgewer Carmen du Plooy ‘n boksie sneesdoekies nader trek omdat die herinneringe van die dag se gebeure haar ontstel het.
“Ek het regtig gedink ek gaan dood daardie dag! Dit was regtig baie seer gewees,” en sy wys die merke waar die honde twee groot happe uit haar linkerbeen gevat het.
“Ek het sleg gelyk en weet tot vandag toe nie waar my vleis is nie – so dit kon of afgesny gewees het by die hospitaal of dalk het die honde dit afgeëet,” het sy probeer grappies maak.
Motsumi onthou nog die dag asof dit gister was en het verduidelik dat sy amper by haar werksplek was toe die honde by die erf uitgeglip het.
“Die honde het my toe begin gryp. Die eienaar het buite op ‘n matras gelê en my nie eers probeer help nie, niemand het my gehelp nie.”
Sy het toe vir Du Plooy, wat op daardie stadium by ‘n vriendin in Noordheuwel gaan koffie drink het, van haar selfoon gebel en verduidelik wat gebeur het.
Daar is sy in erge pyn op die sypaadjie gekry en is toe in Du Plooy se voertuig na die hospitaal gejaag.
Elizabeth Motsumi, Pit Bulterriër byt-slagoffer:
Hendrik Zinn, die eienaar van die honde wat na die tweede soortgelyke voorval van kant gemaak is, het destyds aan die News gesê hy het alles probeer om die honde van haar af weg te kry.
Du Plooy het gesê die eienaar het nog nie een keer met hulle kom gesels nie en dit lyk selfs of hy spoorloos verdwyn het.
“Ek raak nog hartseer en kry trane in my oë wanneer ek na my beserings kyk, maar dit is lekker om terug by die werk te wees. Ek moet seker maak my kleinkind van 14-jaar kan steeds skool toe gaan,” het Motsumi, ‘n ouma en die enigste broodwinner vir haar gesin, gesê.
Vandag loop sy moeilik en moet kort-kort stilhou as gevolg van die pyn wat sy steeds ervaar.
‘n Saak is destyds by die polisiestasie oopgemaak, maar daar het sover niks verder van gekom nie tens pyte van die feit dat die eienaar, ingevolge die Wysigingswet op Diere-aangeleenthede van 1993, verantwoordelik is vir sy diere se gedrag.
Hy of sy, afgesien van siviele aanspreeklikheid soos deur die wet bepaal kan ook krimineel aanspreeklik gehou word in terme van die gemene- of statutêrereg.
Christine Kuch, woordvoerder van die Nasionale Raad vir Dierebeskermingsverenigings (NSPCA) het by navraag gesê dat die media gou is om uit te wys dat baie van die gevalle waar honde – en veral terriërrasse soos pit bullterriërs – mense aanval maar dat baie van die gevalle eintlik by die koper of verkoper van sulke honde lê.
“Die DBV glo die getal in hond aanvalle teen mense sal verminder indien daar ‘n moratorium deur die regering ingestel word teen die teling en informele verkoop van diere asook ‘n ferm sterilisasiebeleid in plek het.
Sou jy graag nuusflitse via WhatsApp wil ontvang? Stuur ‘n SMS/ WhatsApp boodskap met jou naam en selfoonnommer na 079 435 3799.
Maak seker dat U kennis neem van ons WhatsApp-vrywaring
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald, Roodepoort Record en Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!









