[VIDEO] Superheld-juffrou red kind van verstikking
Skoolhoof sê dit kon 'n baie tragiese verhaal gewees het as dit nie was vir die noodhulpkursus wat dié juffrou bygewoon het nie.
Haar flink denkwyse het haar oornag die titel van Super-juffrou besorg.
Louré Bamberger, ‘n Graad 1-onderwyseres van Curro Krugersdorp in Rangeview het met haar basiese noodhulpkennis moontlik die lewe van Luke Redinger, ‘n 7-jarige leerling, gered toe hy gedurende tweede pouse aan sy grondboontjiebotter-toebroodjie begin verstik het.
“Help, help, hy kry nie asem nie,” het ‘n paniekbevange personeellid om hulp geroep.
Louré, wat toe besig was om ‘n blaaskans in die personeelkamer te vat het gesê sy het toe gesien hoe Luke, wat toe reeds blou in die gesig en al om die mond was, gesukkel het om asem te haal.
“Op daardie oomblik het ‘n mens nie eers gedink nie, jy het net gereageer.”
Die Heimlich-maneuver:
Sy het gesê dat sy ewig dankbaar is vir die basiese noodhulp opleiding wat sy ontvang het, want dit is daardeur dat sy die Heimlich-maneuver – ‘n tipe noodhulp prosedure wat gebruik word om vreemde voorwerpe uit die lugweg met abdominale dryfkragte te verwyder – kon toepas.
“Ek het onthou dat daar vir ons tydens opleiding geleer is dat ‘n volwassene dié tegniek op ‘n kind beter kan toepas wanneer jy op jou knieë is,” het sy gesê.
“Ek het hom toe omgedraai, op my knieë gestaan en die tegniek begin toepas, maar met die eerste twee probeerslae het daar niks gebeur nie. Dit was eers met die derde probeerslag toe ek bietjie harder gedruk het dat ‘n groot stuk brood by sy lugweg uitgekom het.”
Superheld-juffrou Louré Bamberger vertel:
Sy het dit beklemtoon dat hulle albei baie groot geskrik het en dat sy eers na die tyd besef het wat eintlik gebeur het.
“Dit was die eerste keer wat ek so iets beleef het en ek kan regtig net God dank dat als goed verloop het in so ‘n situasie. Ek dink ‘n mens kan tydens so ‘n situasie paniekerig raak, maar ek was eers na die tyd paniekerig – ek dink dit is net Jesus wat jou vrede en rustigheid gee om te doen wat jy moet doen.”
Sy het gelag en gesê dat sy na die tyd selfs wonder of dit werklik sy was.
Annemarie Lombard, skoolhoof het gesê dit kon ‘n baie tragiese verhaal gewees het as dit nie was vir die noodhulpkursus wat Louré bygewoon het nie.
“Noodhulp in ‘n skool is ontsettend belangrik omdat ons vir baie kinders verantwoordelik is en daarom moet jy genoegsaam bekwaam wees om die kinders in ‘n noodsituasie te kan help.”
Sy het gesê sy is daarom dankbaar dat haar personeellid kopgehou het.
“Elke kind bring tog toebroodjies skool toe en ‘n mens sou nou nie dink hy kan aan sy broodjie verstik nie, maar in dié geval het hy omdat die grondboontjiebotter dalk ‘n bietjie taai was.”
Annemarie het genoem dat Curro Holdings as ‘n groep nog voor die voorval dit uitgerol het dat noodhulp verpligtend is.
“Hoofkantoor het selfs opleiding gereël vir 19 van my personeel en dit sluit my kleuterskool, busbestuurders en laerskool personeel in.
“Gereelde noodhulpkursusse moet ook gereël word en dit moet uit die skool se begroting kom, want dit is tog die skool wat daaruit gaan baat vind.”
Luke se ma Andrea het gesê ‘n erger oproep kan mens nie kry soos die een wanneer ‘n skool ‘n ouer bel en sê daar was ‘n voorval nie.
“Toe hulle aan my verduidelik het wat gebeur het, het my hart amper gaan staan, maar toe hulle verduidelik het dat hy weer homself is, kon ek weer asemhaal,” het sy gesê.
“As ‘n ouer voel ek weer versekerd dat hulle na jou kinders kyk en seker maak dat onderwysers die regte vaardighede het om in sulke situasies te kan optree.”
Sou jy graag nuusflitse via WhatsApp wil ontvang? Stuur ‘n SMS/ WhatsApp boodskap met jou naam en selfoonnommer na 079 435 3799.
Maak seker dat U kennis neem van ons WhatsApp-vrywaring
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald, Roodepoort Record en Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

