CrimeMunicipalNews

Ses maak jou die (jaag)duiwel in

Jaagduiwels moet dalk hier lees voordat hulle besluit om die versneller weer harder te trap.

Ses volle maande.

Dit is hoe lank ‘n jaagduiwel sonder sy bestuurslisensie sal moet klaarkom indien hy vir ‘n eerste oortreding gevang word die spoedbeperking oorskry.

Die tweede en derde soortgelyke oortredings is nog strenger en kan veroorsaak dat so ‘n beskuldigde sy of haar lisensie permanent verloor of vir vyf of tien jaar van ander vir rygeleenthede afhanklik moet wees wanneer ‘n bestuurslisensie vir daardie tydperk opgeskort is.

Wat dinge nog erger maak is dat so ‘n bestuurder ook in die hof moet verskyn en aan Johan Engelbrecht, die landdros in die Krugersdorpse M-hof, moet verduidelik waarom hy die oortreding begaan het en ook redes verskaf oor waarom die lisensie nie opskort behoort te word nie.

Die M-hof is twee jaar gelede as ‘n sy-tak vir die Krugersdorp Landdroshof gebou om veral oortreders wat verkeerswette verontagsaam en gemeenskapslede wat munisipale by-wette nie gehoorsaam nie, vas te trek en óf te beboet óf tronkstraf op te lê.

Wanindruk oor verkeersdepartement

Engelbrecht het aan die News, wat twee hofverrigtinge van verkeersootreders bygewoon het, verduidelik dat baie mense ‘n wanindruk het oor die stelsel en daarom die erns van die misdryf miskyk.

Hy het dit duidelik gemaak dat hy deur die Departement van Justisie en nie deur Mogale City Plaaslike Munisipaliteit of die verkeersdepartement aangestel is nie.

“Padgebruikers het die idee dat die verkeersdepartement se uitsluitlike doel daaroor handel om geld te maak en dit is nie waar nie. Die plig van die hof en die verkeersdepartement is om te verseker dat die padreëls toegepas word.”

William Nchefu, hoof van verkeer by Mogale City het bygevoeg dat die verkeersdepartement elke jaar aansoek moet doen om ‘n kamera langs die pad op te rig.

“Ons kan nie net besluit om ‘n kamera op te rig omdat ons dink daar gaan meer mense gevang word nie, op die aansoekvorm moet dinge soos aantal ongelukke op die pad, moontlike voetgangers, skole in die area en dies meer aan die owerhede verskaf word met die nodige bewyse voordat so ‘n kamera goedgekeur word.”

Boetes word nie deur verkeersbeampte bepaal nie

Die hooflanddros, verduidelik Engelbrecht, bepaal wat die boete is wat opgelê kan word en daarom kan die verkeersbeampte nie ‘n verkeerskaartjie uitskryf net omdat hy of sy nie van die bestuurder hou nie.

“Ek sien al die boetes wat uitgereik en aan bestuurders uitgeskryf word, asook kaartjies wat betaal is. As daar enige oortedings is wat verkeerdelik beboet is sal ek dadelik weet,” het Engelbrecht gesê.

Hy erken daar is vrot appels in die verkeersdepartement en maan padgebruikers om dit onder die departement se aandag te bring sodat die nodige tugstappe teen hulle geneem kan word.

Verkeersoortreding knou finansies

Baie van die wetsoortreders wat Engelbrecht te sien kry voer verskeie redes aan oor waarom hulle nie die boete wat opgelê word kan betaal nie.

“Skielik lyk almal se finansies beroerd en dit verstom my. Hoekom word daar dan teen ‘n hoë spoed bestuur as ‘n bestuurder weet daar is ‘n moontlikheid om ‘n boetekaartjie te kry en weet dat hy of sy dit nie sal kan bekostig nie?”

Hy het gesê soms is daar geldige redes en die plig van die hof is nié om mense wat reeds lê verder te skop nie, maar eerder dit onder die aandag te bring dat hul aksies tot meer ernstige gevolge kan lei soos ‘n botsing met ander voertuie of voetgangers wat selfs fataal kan wees.

Spoedoortredings wat hofverskynings genoodsaak

Enige padgebruiker wat die spoedbeperkings met ‘n aantal ekstra kilometers oorskry ontvang ‘n dagvaarding om in die hof te verskyn.

Enige spoedbeperking bo 30km per uur in stedelike gebied en 40km buite ‘n stedelike gebied is ‘n waarborg dat ‘n bestuurder so ‘n dagvaarding sal kry en ook sy of haar lisensie vir minimum ses maande kan verloor wat gepaardgaan met ‘n boete wat deur die landdros bepaal sal word.

Engelbrecht het gesê daar word hard gewerk om die gemeenskap se persepsie oor padveiligheid te probeer verander omdat die veiligheid van die gemeenskap vir hulle belangrik is.

Sou jy graag nuusflitse via WhatsApp wil ontvang? Stuur ‘n SMS/ WhatsApp boodskap met jou naam en selfoonnommer na 079 435 3799.

Maak seker dat U kennis neem van ons WhatsApp-vrywaring

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Roodepoort Record en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button