Man wat drie koeëlskote oorleef op herstelpad
Manie Lemmer, 26, is in April in sy oprit in Silverfields van sy kar beroof nadat hy 'n wegneemete gaan koop het.
Dit was sy laaste rusdag voordat hy weer sou begin werk, maar toe gebeur die onwaarskynlike – hy word drie keer raakgeskiet.
Manie Lemmer, 26, wat in die sekuriteitsbedryf werksaam is, is reeds nou meer as ‘n maand op die herstelpad en verduidelik dat dit beslis geen ‘vakansie’ is nie.
Hy is reeds meer as twee weke by die huis waar hy besig is om van ‘n sewe uur lange operasie te herstel nadat twee van die drie geweerskote ernstige beserings in sy bolyf veroorsaak het. Hy trap ook moeilik nadat een van die skote in sy voet afgevuur is.
“Dit gaan nog ‘n lang herstelproses wees en al het ek nog pyn is die dokters vol vertroue dat ek ten volle gaan herstel,” het Lemmer gesê wat beserings in die dikderm, blaas, rektumkanaal en lae rug opgedoen het.

“Ek moet weer binnekort vir ‘n kolonoskopie gaan sodat dokters die herstelproses kan dophou. Ek is net dankbaar, want die tweede koeël het my rugstring en niere met enkele sentimeters gemis.”
Lemmer is in April deur kapers in ‘n wit Chevrolet bakkie voor sy oprit in Garrickstraat vasgekeer voordat hy sonder enige struweling geskiet is.
Hy het pas van die winkel teruggekeer nadat hy ‘n wegneemete gekoop het.
“Ek het by my voertuig uitgeklim en die bakkie gewaar. Eers het ek gedink dit is iemand wat vir aanwysings vra, maar toe sien ek hoe die passasier met ‘n geweer in die hand uitspring – dit is toe dat ek besef hier is moeilikheid.”
Lemmer het dadelik sy hande in die lug gegooi nadat hy besef het daar gaan nie tyd wees om self sy wapen wat aan hom was, te gryp nie.
“Nog voordat hy by my was het hy klaar die eerste skoot afgevuur en my getref, ek het op daardie oomblik nog teen my kar se deur geleun toe die tweede skoot afgaan.”
Dit was eers ná hierdie skoot afgevuur is dat hy na die grond afgesak het.
“Ek het gedink hier is ek op my laaste. Steeds het ek so probeer lê dat hulle nie my vuurwapen moet raaksien nie, maar nadat ‘n derde skoot ¬ dié keer in my voet – afgevuur is, is my vuurwapen afgevat.”

Lemmer het gesê regdeur die rooftog het die verdagtes nie een keer vir hom vir geld of sy selfoon gevra nie. Sy voertuig, ‘n Opel Astra is ure later onbeskadig en gesluit in Kagiso gevind.
Al wat uit die voertuig gevat is, is ‘n gereedskaptassie en sy selfoon wat op die voorste passasiersitplek gelê het.
Die karradio, ‘n sportsak met nog ‘n selfoon en al sy CDs asook die wegneemete wat hy gekoop het was onaangeraak. Sy vuurwapen is ook steeds soek.
“Ek kan vandag steeds nie verstaan wat hulle eintlike doel was met die rooftog nie.”
Hy het gesê om sekuriteit by sy woning op te skerp is ‘n hekmotor geïnstalleer sodat nie hy of ander familielede, wat toevallig tydens die rooftog nie tuis was nie, nie hoef uit te klim om die hek oop te maak nie.
“Ek wil net baie graag vir die Gemeenskapspolisiëringsforum van Sektor 8 bedank asook elke persoon wat tot vandag toe steeds inloer om te hoor hoe dit met my gaan en wat my ook daardie aand bygestaan het.”
Sou jy graag nuusflitse via WhatsApp wil ontvang? Stuur ‘n SMS/ WhatsApp boodskap met jou naam en selfoonnommer na 079 435 3799.
Maak seker dat U kennis neem van ons WhatsApp-vrywaring
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald, Roodepoort Record en Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
