[VIDEO]: ‘n Soetigheid en gesonde gees dra by tot fondsinsameling
Andries Vermeulen, sanger en grapjas storieverteller, was vanjaar die spesiale gas en afslaer van 'n fondsinsamelingsinisiatief.
Dit moet die duurste koek in die dorp wees.
So het die sanger en grapjas storieverteller Andries Vermeulen geskerts toe ‘n heerlike versierde sjokoladekoek amper die R2 000 merk tydens ‘n opveiling vir liefdadigheid gehaal het.
Hy was vanjaar die spesiale gas en afslaer van ‘n fondsinsamelingsinisiatief wat deur Grain Care, ‘n niewinsgewende liefdadigheidsorganisasie van Randfontein by die Krugersdorp Gholfbaan gehou is.

Meer as 100 sakelui het die dag van hulle formele kantoorklere ontslae geraak en toe in hulle gholfuitrustings gemaklik geword. Daar kon hulle vir ‘n oomblik van werk vergeet en met ‘n gholfstok in die hand na ‘n sorgvrye wêreld weggevoer word.
Jackie van der Walt van Grain Care het gesê dit was ‘n wonderlike dag en ook dat hulle baie opgewonde is oor die rekord bedrag wat hulle na die tyd ingesamel het om onder ander vir Joshua Opperman, 6, en Joshua Mpanza, 11, twee leerlinge van die Wes-Randse Skool vir Fisiese Gestremdes te kan help.

Dié leerlinge wat onderskeidelik met spinale spieratrofie en serebrale gestremdheid gediagnoseer is sal elk ‘n gespesialiseerde rolstoel van R15 000 ontvang.
Die res van die geld gaan gebruik word as fondse vir die res van Grain Care se projekte wat daarop gemik is om kinders in nood, mense met gestremdhede, gesinne in nood, behoeftige skole en kerke, bejaardes en Kersfeesprojekte aan veral arm gemeenskappe en kinderhuise by te staan.
Grapjas Andries Vermeulen laat gehoor skaterlag:
Jackie het gesê van hierdie geld is dae nadat dit reeds ontvang is al aan verskeie van hulle projekte oorbetaal.
“Ons is regtig trots op die dag wat so suksesvol verloop het en wil ook net my opregte dank aan al ons borge oordra, want sonder hulle sou dit nie moontlik gewees het nie en sou ons die dag nie so suksesvol kon afsluit nie.”

Van die items wat na afloop van die vierbal gholffondsinsameling opgeveil is sluit in verskeie sport memorabilia, wegbreeknaweke en skilderye wat deur Wes-Rand Skool se leerlinge geskilder is.
Een van Andries se CDs is ook opgeveil en hier het hy ‘n persoonlike boodskap op die CD-omslag aan Mike van Deventer, koper, geskryf dat dit verseker die duurste CD is wat hy tot dusver verkoop het.
Mike was ook die koper van die koek en ‘n memorabilia stuk.

