Prestasies tot in die volgende millennium
Laerskool spog met hope talentvolle leerlinge en nuwe gesigte in die personeelkamer.
Laerskool Millennium spog met ‘n hele reeks prestasies en wil ook graag ander nuus met die gemeenskap deel.
Die skool is besonder trots op hul eie Goue Leeus-speler en -afrigter, ‘n netbal-ster, ‘n onlangse besoek deur ‘n bekende skrywer, nuwe gesigte in die kantoor en akademiese prestasies.
Millies het meer as genoeg rede om fees te vier nadat een van hulle leerlinge, Katlego Taukubang gekies is om die Goue Leeus o.12- rugbyspan te verteenwoordig tydens ‘n toernooi wat gedurende die komende skoolvakansie gehou gaan word.
Op die netbalbaan is Keneilwe Seopa gekies vir die o.12 Gauteng Sekondêre Skool Netbalspan wat ook tydens die vakansie aan die All Ages Tournament gaan deelneem.
Verder is die skoolbestuur in hulle skik met Sibusiso Khumalo, ‘n onderwyserassistent wat gekies is as ‘n ontwikkelingsafrigter vir die Goue Leeus se o.12-rugbyspan.
Die skoolbestuur het saam met onderwyser Helen de Waal vir leerlinge die geleentheid gegee om ‘n bekende skrywer, Fanie Viljoen, persoonlik te ontmoet toe hy ‘n praatjie by die skool gelewer het. Terwyl Fanie vir die leerlinge vertel het hoe hy te werk gaan om ‘n boek vir tieners te skryf, het die kinders doodstil gesit en aan sy lippe gehang.
Millies is ook bevoorreg om twee nuwe gesigte, Erica du Preez by administrasie en Elmarie Pieterse by invorderings by die Millennium-familie te verwelkom.
Laaste maar nie minste nie, spog Millies met ‘n groep Graad 7-leerlinge wat aan ‘n Astronomie Vasvra in Westonaria deelgeneem het. Nicole le Roux, Riehan Botha, Tshielo Kobe en Tsolo Bogatsu is as die streekwenners van die kompetisies aangewys en sien daarna uit om aan die tweede rondte deel te neem waar hulle teen die res van Gauteng-Wes se skole om die titel sal meeding.
Verwante artikels:
• Millennium Primary welcomes their Grade 1’s
• Blus boelies se afknouvuur reeds vroeg






