EntertainmentLifestyleLocal newsNews

[VIDEO] Gestremde ‘toor’ met sy sangstem

Hoor hoe sing Steven Cambell die bekende Bobby van Jaarsveld enkelsnit My wêreld draai om jou.

Hy ryg die trofeë en sertifikate een na die ander in terwyl hy sy gehoor in vervoering het met sy klankstem.

Die enigste verskil? Dié sanger is serebraal verlam en ook verstandelik beperk sedert geboorte.

Steven Cambell, 33, ‘n inwoner van die Wes-Randse Vereniging vir Fisies Gestremde Persone (WRAPD) in Oatlands gebruik nie sy gestremdheid as verskoning om sy liefde vir musiek en sy droom om voor mense te sing voort te sit en uit te leef nie.

Die feit dat hy nie die lirieke van liedjies kan lees nie verhoed hom ook nie om dit op sy eie manier te leer nie, selfs al neem dit hom langer om te doen.

Elna Coetzee, sy werkswinkelbestuurder gedurende die dag waar hy monteerwerk doen, is ook sy afrigter.

“Gewoonlik kies hy self watter liedjie by sy stem sal pas, ek help hom dan net om seker te maak die keuse is geskik,” het sy gesê.

Sodra daar op ‘n liedjie besluit is, sal ‘n mens Steven met sy oorfone op sy kop kry waar hy dan ure spandeer om dié betrokke liedjie oor en oor te luister om dan die woorde op hierdie manier onder die knie te kry.

“Wanneer hy die woorde stuk vir stuk begin leer sal hy ook begin saamsing. Hy het ‘n baie goeie oor en kan self hoor wanneer hy die note nie reg het nie en dan sal ons saam daaraan begin werk,” het Elna gesê.

Steven is ‘n groot reggae-musiekgenré aanhanger en hou veral van Bob Marley se musiek, maar aan die plaaslike front is hy ‘n groot bewonderaar van sangers soos Bobby van Jaarsveld se musiek en hy sing selfs van sy liedjies.

Een van sy drome is om self eendag vir Bobby te kan ontmoet.

Steven het deur die jare al verskeie eerste pryse by die Connie Mulder Eistedfodd sowel as die Raca-Eistedfodd as solis ingepalm en hy hoop om hierdie jaar daarop voort te bou.

“Ek is baie trots op dit wat hy sover al kon regkry en ons gaan binnekort weer hard oefen vir die kompetisies wat in September plaasvind.”

Annalene Rossouw, WRAPD-direkteur het gesê hulle is bevoorref om hom by hulle te hê.

“Hy tree altyd op met soveel entoesiasme en ‘n mens kan sien dat hy dit baie geniet – hy is een van ons produkte waarop ‘n mens trots kan wees, want hy dra ‘n baie positiewe beeld uit na buite,” het sy gesê.

“Steven is ‘n inspirasie vir ander, insluitend myself.”

• Die WRAPD het tans ‘n groot behoefte aan ‘n klanksisteem nadat die een wat hulle voorheen gebruik het, opgepak het. Enigeen wat met ‘n bydrae kan help kan Annalene by 011 660 7964 bel.

Hoor hoe sing hy die bekende Bobby van Jaarsveld enkelsnit My lewe draai om jou en besluit dan vir jouself:

Sou jy graag nuusflitse via WhatsApp wil ontvang? Stuur ‘n SMS/ WhatsApp boodskap met jou naam en selfoonnommer na 079 435 3799.

Maak seker dat U kennis neem van ons WhatsApp-vrywaring

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Roodepoort Record en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button