[VIDEO] Krugersdorp se straatprediker
Somtyds staan hy op die hoek van 'n besige vierrigtingkruising, ander kere loop hy in die middel van die pad. Maak nie saak waar jy hom kry nie, hy verkondig altyd die Woord van God.
Het jy al vir Francis ontmoet?
Hy loop al vir 21 jaar Krugersdorp plat, geklee in sy blou oorpak, aan die praat oor die Woord van God.
Die News het hom verlede week een oggend in die dorp raakgeloop, en was nuuskierig om meer van hom te wete te kom.
“Goeiemôre dame, kan ek vir jou ietsie neerskryf om saam met jou te vat?” vra Francis Modikoe terwyl hy by die kar se venster inloer.
“Dit is ‘n paar dele wat jy moet gaan lees. Dit staan in die Bybel.”
Francis is in 1956 in Munsieville gebore en het nooit getrou nie. Hy is net getrou aan sy God. Sy moedertaal is Suid-Sotho.
“Ek volg nie tradisies nie, ek glo net in die wet van Moses,” vertel hy.
Francis sê mense is nie gewoonlik baie gelukkig om hom te sien nie en winkeleienaars jaag hom dikwels weg.
“Hulle sê gewoonlik ek moet op ‘n ander plek gaan preek.”
Een so ‘n geval het Francis amper sy been gekos.
“Dit het in 2006 in Krugersdorp-Wes gebeur,” het hy vertel. “Die man het my weggejaag en toe in die verkeer in gestamp. ‘n Kar tref my toe en my been was heeltemal gebreek.”
Vandag lewe Francis van ‘n staatspensioen, steeds in Munsieville.
In 1975 het gemeenskapslede geglo Francis is “mal” en hom Sterkfontein Psigiatriese Hospitaal toe geneem.
“Ek het toe opgehou preek, maar weer in 1994 begin.”
Francis glo dat God die enigste Waarheid is en dat almal die Waarheid moet leer.
“Ek sal elke dag vir die res van my lewe die Woord reg oor Krugersdorp verkondig.”

