Hoërskool Bastion is baie trots op oud-leerling Dandré Booyens wat ook op skool uitgestaan het in Gasvryheidstudies.
Dandré het verlede jaar sy studies aan die HTA School of Culinary Arts voltooi en werk tans as chef de partie by die Protea Hotel Wanderers.
Hy is onlangs genooi om aan die Goldcrest Chef of the Year-kompetisie deel te neem.
Die deelnemers het ‘n mandjie met geheime bestanddele ontvang en moes binne vier uur vier gange van twee borde elk voorberei.
Dandré het bekende beoordelaars soos Leanne Calloway van die Wanderers Club, Neil Olverman, uitvoerende chef van die Hilton in Sandton, George Georgiou van die South African Chefs Association (SACA) en Jerome Norton, sous chef van die Westcliff Four Seasons en deel van die SA Kulinêre Span met sy vernuf in die kombuis beïndruk en derde plek in dié kompetisie losgekook.
Hy verhuis binnekort na Nelspruit waar hy as sous chef by die Protea Hotel Nelspruit gaan werk.
