50 jaar se glimlag
Hulle ken mekaar byna 60 jaar, maar hierdie paartjie is vandag nog smoorverlief.
Hoe bly ’n paartjie 50 jaar getroud?
Lenie en Harry Haramus het mekaar 57 jaar gelede ontmoet op ’n toe-oog afspraak in Pretoria.
“Daar was onmiddellik ’n vonk tussen ons,” het Harry gesê.
Die geheim, volgens die paartjie, is om altyd te vra “hoe hoog?” as die ander een sê “spring!”
Laggend en vol grappies, sorg die 80-jarige Harry gereeld vir ’n glimlag op Lenie se gesig.
“Hy word erger soos wat hy ouer word,” het 79-jarige Lenie vertel oor haar man se grapperigheid.
Dit blyk duidelik uit hierdie paartjie, glimlag hou ’n mens jonk.
Angelique Kruyshaar, een van hul kinders het die paartjie na Silverstar geneem het vir hul huweliksherdenking. Sy het gesê haar ouers se verhouding is pragtig en “iets om na op te kyk”.
“My ouers doen altyd moeite om hul verskille uit te sorteer.”
Harry raai jong paartjies aan om altyd na die oplossing te soek en nie ’n berg van ’n molshoop te maak nie.
Net voor Harry die News uit hul tehuis in Luipaardsvlei vergesel het, het hy daarop aangedring dat sy vrou vir hom koffie moet maak as hy terug kom.
“Ons doen altyd dinge vir mekaar. Niks is net syne of net myne nie,” het Lenie gesê.
“Ja, alles wat myne is, is hare en alles wat hare is, is myne.”

