Laerskool Krugersdorp-Noord se Graad 5 netbal- en hokkiespelers het hul lyfies kelnerin gehou tydens ’n fondsinsamelingprojek.
“Die doel was om ekstra fondse in te samel vir hierdie naweek se toer na Arendsnes,” het spanafrigter Christien du Buisson verduidelik.
Die spanne het Dinsdagaand 23 Junie van 6nm tot 9nm by Silverstar Spur gewerk en 10 persent van die aand se wins ontvang. Elkeen het saam met ’n voltydse kelnerin drinkgoed aangedra. Hulle is selfs gewys hoe om bestellings op die rekenaar in te voer.

“Die fondse wat ingesamel is word aangewend as ondersteuning vir behoeftige spelers sodat hulle ook op toere kan gaan,” het Christien verduidelik.
Talle klante was aangenaam verras toe hulle deur die 11-jarige meisies in hul spandrag bedien is.
“Ek dink dit is ’n vreeslik oulike idee vir ’n fondsinsameling,” het een van die klante, Gill Towill gesê.
“Die meisies word blootgestel aan harde werk en leer dat jy nie altyd ’n beloning kry as jy iets doen nie.”
Miané le Roux, ’n A-netbalspanspeler, vertel die span het al verlede jaar begin om só fondse in te samel, maar is nog nie oortuig om ’n beroep daarvan te maak nie.
“Ek sal nie ’n kelnerin wil word nie. Jy loop te veel en maak nie genoeg geld nie.”
Verwante artikels:
• Winter Kersfees vir kindertjies
• Noordskool gee om vir sy gemeenskap
