Maria van Heerden is woedend nadat sy ‘n R500-boete in ‘n winkelsentrum se parkeerterrein gekry het.
Sy meen dis onregverdig omdat sy nie geweet het die parkering reg by die ingang van die sentrum is slegs vir persone met fisiese gestremdhede bedoel nie.
Sy het verduidelik dat sy daardie dag op die betrokke plek parkeer het nadat sy met erge rugpyn dokter toe was.
Nadat Van Heerden haar voorskrif by die apteek in die sentrum gaan haal het, het sy ‘n verkeersbeampte by haar voertuig gekry wat pas vir haar die boete uitgeskryf het.
“Dit is belaglik,” was Van Heerden se reaksie. Sy kry skaars R1 450 pensioen per maand. Die bejaarde het gesê sy het eenvoudig nie genoeg geld om deur die maand te kom en boonop die boete te betaal nie.
Sy het alles probeer om met die verkeersbeampte te onderhandel maar die enigste antwoord wat sy gekry het, was, “Dit het niks met my uit te waai nie. Jy moet ‘n plakker hê om hier wettig te kan parkeer.”
Daar is bordjies met simbole by elke parkeerplek wat aandui dat dit net vir spesifieke persone is. Dié simbole is ook op die teeroppervlak geverf.
Nog ‘n bejaarde het met ‘n soortgelyke klagte na vore gekom en meen daar is nêrens ‘n kennisgewingbord wat dit uitspel dat mens ‘n plakker nodig het om die parkeerplek te gebruik nie en dat oortreders beboet sal word nie.
Die News het ondersoek ingestel na die bewerings en kan bevestig dat die verkeersbeampte wel reg opgetree het.
Inwoners moet onthou dat padreëls op die pad sowel as in enige openbare parkeerterrein nagekom moet word. Die toegewese parkeerplekke is net bedoel vir persone met fisiese gestremdhede, mits hulle die korrekte plakker kan toon. Dié plakker is slegs beskikbaar by Mogale City se Verskeersdepartement. ‘n Doktersbrief moet saam met die aansoek vir die plakker ingedien word, en dit moet jaarliks hernu word.
Plakkers wat by apteke verkoop word, word nie aanvaar nie.
Verwante artikels:
• News joernalis betrap en konfronteer wetoortreders
• Video: officer parks at stop sign to buy lunch
