Kosie Pretorius het soms letterlik sy hande vol wanneer dit by rommelstorting in Rangeview kom.
Reeds vir 12 jaar sien hy hoe rommel, boumateriaal en selfs motorolie op ‘n oop stuk veld oorkant sy huis gestort word en in plaas daarvan om terug te staan en te wag dat die munisipaliteit iets omtrent dié probleem doen het hy besluit om self plan te maak.
“Ek onthou as kind is ek hard op die boude geslaan as ek dit net sou waag om ‘n lemoenskil by die karvenster uitgooi, maar vandag lyk dit my het mense net nie meer ‘n saak hoe hulle die omgewing behandel nie.”
Pretorius het die News ontsteld gekontak toe hy onlangs op ‘n kartonboks met glashouers afgekom het.
Omdat die afleweringsinligting op die kartonboks aangedui het dat dit van ‘n private kliniek in Emfuleni in Vanderbijlpark afkom het hy dadelik gedink dit moet mediese afval wees.
Nadat hy die bestuur by dié kliniek gebel het, wat toe beloof het om te kom ondersoek instel en die items te verwyder is daar besef dat dit nie enige gevaar inhou nie en dat dit pynstroop medikasie glashouers is.
Die bestuurder het in die teenwoordigheid van die News gesê dat hy als in sy vermoë sal doen om te probeer uitvind hoe dit daar opgeëindig het.
Dit blyk of die glashouers gewas is voordat dit toe in die veld gestort is. ‘n Teelepel is ook in die kartonboks gekry.
“‘n Mens kan nie kanse waag nie, want ek het al voorheen mediese naalde ook in die veld gekry,” het Pretorius gesê.
Hy het gesê hy maak op ‘n gereelde basis die veld skoon en dit het hom selfs al gekos om dag werkers te betaal om die gras te sny en rommel in sakke te plaas wanneer hy dit nie self kan doen nie.
“Ek wil eintlik ‘n bordjie by my huis laat opsit en vir die mense, meestal in hulle blink motors, vertel watter morsjorse hulle is, kry hulle nie skaam nie?”
Verwante artikels:
• Municipal house now a dumping site
• Illegal dumping under council’s noses
• Contractor caught dumping illegally
