Vrygewige maters maak harte bly
Inwoners van die Pioneer Tehuis ontvang sakke vol liefde.
‘n Skoolbussie vol goedhartige leerlinge het die Pioneer Tehuis in Krugersdorp besoek om die bejaardes se harte warm te maak met liefde en donasies.
Alma Mater Akademie-leerlinge van voorskool tot Graad 7 het met ‘n insamelingsprojek begin wat dit vir hulle moontlik gemaak het om verskeie goedere aan die minderbevoorregte inwoners van hierdie ‘vergete’ tehuis te skenk.
Douvoordag het die skoolbussie propvol bederfsakke by die tehuis gestop waarna leerlinge en onderwysers saam met die skoolhoof van deur tot deur gestap het.

Inwoners het hulle deure verras oopgemaak en die jong leerlinge ingenooi.
Dit was hartseer om te sien dat daar selfs ‘n handjievol bejaardes was wat eers ‘nee dankie’ gesê het vir die bederfsak omdat hulle nie geweet het dit was ‘n geskenk nie.
Die leerlinge het dit terdeë geniet om die sakke uit te deel. Hulle het lekker met die inwoners van die tehuis gesels terwyl hulle die swaar sakke vir hulle in hul huisies ingedra het.

Danksy die leerlinge en borge se skenkings is daar vir elke inwoner van die tehuis ‘n materiaalinkopiesak met joghurt, lekkernye, rys, sop, koekies, melk, margarien, Milo, tee, suiker, koeldrank, groente en warm wolsokkies gegee.
Dankies en seënboodskappe het opgeklink terwyl die leerlinge verby die huisies terug bussie toe gestap het.
“Mogale City is ‘n wonderlike dorp,” sê ‘n dankbare Tina Marshall, baie in haar skik met haar bederfsak.

Verwante artikels:
• [PHOTOS] Elders wrapped in Mandela Day blankets
• Alma Mater se klasse vergroot
• Mense is bemarkingsbestuurder se passie
