Beweerde padwoede eis man
Polisie het bevestig dat 'n 25-jarige verdagte van Randfontein reeds in die Krugersdorp Landdroshof verskyn het.
Polisie ondersoek ‘n saak van moord nadat ‘n 59-jarige man Saterdag in Moorcroftstraat in Krugersdorp-Wes vermoedelik in ‘n padwoede-aanval gesterf het.
Polisie het bevestig dat ‘n 25-jarige verdagte van Randfontein reeds in die Krugersdorp Landdroshof verskyn het.
Lees aanvanklike artikel hier: Man (60) brain dead after alleged assault
Sersant Tshepiso Mashale, ‘n polisiewoordvoerder het gesê volgens inligting was Sakkie van Loggerenberg en sy vrou Marina sowel as hul vier kleinkinders in die voertuig toe hulle deur die verdagte gestamp is.

“Albei die bestuurders het gestop. Na bewering is Van Loggerenberg met die vuis bygedam en het ernstige kopbeserings opgedoen.”
Marina het aan die News gesê hulle was van hul huis in Rant-en-Dal onderweg na West Village om hul kleinkinders by hul ouers af te laai toe die ongeluk in Jonesstraat plaasgevind het toe hulle by Moorcroftstraat wou indraai.
“Dit lyk vir my die man het nie die stopteken gesien nie en het ons toe gestamp. Hy het daarna vir ons tekens met sy hand gewys en ons agterna gesit.”
Sy het gesê Van Loggerenberg en die verdagte het uit hulle voertuie geklim waarna Van Loggerenberg deur ‘n vuishou onder die ken getref is.
Marina het gesê sy is ook deur die verdagte aangerand toe sy probeer keer het.
“Ek het toe net gesien hoe my man agteroor tot teen die teerpad val. Daar het bloed by sy mond uitgekom soos hy sy bolip raakgebyt het.”
Die oupa van die verdagte, wie se identiteit nog nie bekend gemaak kan word nie, het gesê sy kleinseun, die verdagte, het ‘n ander weergawe van die gebeure.
Volgens hom het sy kleinseun gesê Van Loggerenberg het nie by die stopteken doodgestop nie. Die oorledene het glo sy motor in trurat gesit en hom agterna gesit en dit is toe dat hul voertuie gebots het.
“My kleinseun het glo verskeie kere vir die man gesê hy moet terugklim in sy motor, want hy soek nie moeilikheid nie en dat die man aan sy vrou en die kinders in die kar moes dink.”
Hy het erken dat hy hom tussendeur ‘n klap toegedien het en hom na sy motor gedwing het.
“Maar hy het net weer teruggekom. My kleinseun het hom ‘n hou met die linkerhand gegee, toe slaan die man soos ‘n boom agteroor.

“My kleinseun was die heelaand bekommerd oor die man se welstand en nadat hy gehoor het hy is oorlede het hy homself by die polisie gaan oorgee. Hy wou net by my weet hoe dit moontlik is dat iemand so maklik kan sterf.”
Marina het gesê Van Loggerenberg is per ambulans na die Netcare Krugersdorp Hospitaal vervoer waar hy in die intensiewesorg-eenheid opgeneem is.
Die volgende dag is die familie in kennis gestel dat Van Loggerenberg breindood was nadat hy erge bloeding op die brein opgedoen het weens skedelbreuk.
“Ek sal hom baie mis. Hy was regtig ‘n baie goedhartige mens wat altyd daarvan gehou het om sy medemens in nood te help,” het Marina gesê.
Van Loggerenberg, wat veras gaan word, se gedenkdiens word vandag by die NG Suiderlig-kerk in Krugersdorp-Wes gehou.
Hy word oorleef deur sy vrou Marina, ses kinders en 12 kleinkinders.
Verwante artikels:
• Man (60) brain dead after alleged assault
• Assault suspect to appear in court
