[VIDEO] Vrou tot by huis van bank agtervolg
'n Man op 'n rooi motorfiets word as die held van dié storie beskryf.
’n Vrou is vermoedellik van die Standard Bank binne-in die Key West Winkelsentrum, waar sy geld getrek het, tot by haar huis in Monument agtervolg en beroof.
Linda Stoffberg-Williams, 65, is net dankbaar dat sy leef en het net lof vir die gemeenskap wat daartoe gelei het dat die skuldiges minute na die voorval vasgetrek kon word.
Sy het tydens ‘n onderhoud by haar huis aan die News gesê die rooftog het presies twee maande na haar man se afsterwe gebeur.
“Hy was die een wat gewoonlik al die banksake behartig het. Ek trek altyd geld by die besigheidskassiere, maar omdat daar niemand daar was om my te help nie is ek na die gewone kassiere waar ek minder as R10 000 getrek het.
Linda Stoffberg-Williams vertel van die oomblik toe sy beroof is:
Dié geld het sy gaan trek om haar dagwerkers te betaal wat besig was om ‘n nuwe hek by haar huis in Piet Joubert te installeer.
“Die kassier het my toe gevra of ek haastig is, want sy moet eers ‘n Rand-stuk gaan haal wat sy kort is.”
Nasat sy die bank verlaat het, het sy by die hysbak ingeklim.
“‘n Vrou wat baie senuweeagtig opgetree het en verduidelik het dat sy koud kry, het ook by bie hysbak ingeklim. Sy het my toe die heeltyd op en af bekyk”

By die huis was haar buurman Dirk van Rooyen besig om haar nuwe hek op te sit en dit is toe dat sy besluit het om op die sypaadjie voor sy erf te gaan parkeer.
“Toe ek opkyk nadat ek uit my motor geklim het, het ek gesien hoe ‘n netjies geklede man na my rigting aangestap kom en skielik vir my sê dat ek my handsak vir hom moet gee.”
Stoffberg-Williams het gesê sy het geweier en hulle het begin stoei totdat ‘n tweede man ‘n vuurwapen teen haar gerig het en sy ingee het.
“Hy het my toe opgetel en hard op die teerpad neergegooi, dit is toe dat ek begin skree het. Ek is baie gelukkig om net kneusplekke op my lyf te hê en dat ek nie enige bene gebreek het nie.”
Dirk van Rooyen vertel hoe hy ‘n rower met sy sweishelmet gegooi het:
Van Rooyen en haar werker Lucas Ramatlapeng het toe die hulpkrete gehoor.
“Ek het die sweishelmet van my kop afgehaal en gesien wat besig is om te gebeur. Ek het na hom gehardloop en dit is toe dat hy die vuurwapen in my rigting wys,” het Van Rooyen gesê.
“Ek was toe so kwaad en het op hom afgestorm en hom met my helmet begin slaan voordat hy ‘n waarskuwingskoot in die lug afgeskiet het.”
Die rower het by die voertuig, ‘n swart Volkswagen Polo GTI ingespring en hulle het weggetrek.
“Ek het probeer om agter hulle aan te hardloop om die nommerplaat te kry, maar dit was met maskeerband toegeplak .”
Dit is toe dat Deon van Zyl, wat as die held beskryf word, tydens ‘n pretrit op sy rooi motorfiets verby ry en deur Van Rooyen gestop word.
“Ek het die tannie (Stoffberg-Williams) eerste gesien en toe net gehoor dat daar ‘n voorval was en dit is toe dat ek die swart voertuig agterna gesit het, wat ek aanvanklik gedink het is beroof.”

Hy het gesê die bestuurder van die voertuig het baie vinnig en roekeloos bestuur.
“By ‘n rooi verkeerslig het ek ‘n polisievoertuig gesien en aan hulle verduidelik dat ek dink die voertuig is gekaap. Die polisie het daarna beheer oor die situasie geneem en ek is terug om te sien of die tannie enige hulp benodig.”
Sersant Thsepiso Mashale, ‘n polisiewoordvoerder het gesê drie skuldiges is later in Munsieville vasgetrek waar die handsak met geld, ‘n vuurwapen, ammunisie en ‘n weerkaatserbaadjie van ‘n verkeersdepartement gekonfiskeer is.
Die drie verdagtes het reeds in die hof verskyn op aanklagte van roof en poging tot moord.
Verwante artikels:
• Monument follow-home robbers cornered; arrested
• Another victim identifies ATM scamsters
• [VIDEO] Salary stolen in three minutes at ATM
• ATM bombed but no cash stolen
Sou jy graag nuusflitse via WhatsApp wil ontvang? Stuur ‘n SMS/ WhatsApp boodskap met jou naam en selfoonnommer na 079 435 3799.
Maak seker dat U kennis neem van ons WhatsApp-vrywaring
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald, Roodepoort Record en Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
