Moordsaak na jaar steeds onopgelos
Volgens die vermoorde se ma is bewysstukke soos 'n geheuekaart waarop belangrike stemboodskappe op gestoor is skoonveld.
‘n Jaar nadat ‘n 18-jarige man se lyk in raaiselagtige omstandighede in ‘n sloot agter ‘n bekende nagklub in Burgershoop gevind is, is die skuldiges steeds nie vasgetrek nie.
Monica Jansen van Rensburg, die ma van Thinus Coetzee wat op 1 Junie verlede jaar erg aangerand is, het gesê sy het al op verskeie geleenthede die Krugersdorp polisie se speurtak oor moontlike verdagtes ingelig en is nou ongelukkig omdat daar geen vordering in die saak gemaak word nie.
Volgens haar het bewysstukke soos ‘n 32Gigagreep geheuekaart waarop belangrike stemboodskappe op gestoor is ook voete gekry.
LEES OOK: OPVOLG: Jong man se liggaam agter nagklub: Moorddossier geopen
“Ek het al name aan die polisie gegee wat met Thinus se moord verbind kan word, dit is alles op die geheuekaart. Ek het selfs ooggetuies na die polisie geneem, maar tot dusver het daar nog niks van gekom nie.”

Sy het gesê inligting dui daarop dat die hoofverdagte in Middelburg, Mpumalanga is.
“Volgens inligting is hy die een wat my seun se nek in die sloot afgetrap het.”
Jansen van Rensburg het die nag se gebeure hervertel en fotos gewys soos waar haar seun in die sloot sowel as die Roodepoort se lykshuis gelê het.
“Hulle het hom erg verniel! Daar was selfs twee gate in sy kop soos hulle (die verdagtes) hom met, wat lyk soos ‘n skroewedraaier gesteek het.
“Hulle het dié skroewedraaier in sy kop gedruk omdat hy glo nie wou doodgaan nie.”
Van sy ander beserings was erge kop beserings, ‘n nier wat afgeskeur was, ‘n lewer wat beseer is en ‘n keel wat afgetrap is.

“Daar was ook ‘n diep sny in sy keel en sy Adamsappel is vermoedelik so beseer dat dit teen aan sy slagaar gedruk is totdat dit gebars het.”
Jansen van Resnburg het gesê sy soek net antwoorde van die polisie en het selfs al gevra dat ‘n nuwe ondersoekbeampte – die vierde een – die saak moet herondersoek omdat beloftes bly gemaak word, maar niks daarvan kom nie.
“Ek is nou reeds besig met die nasionale polisie en het ook reeds aan hulle alles verskaf wat ek het.”
Kolonel Luke Enslin, bevelvoerder van die Krugersdorpse Speurtak het by navraag gesê ‘n moordsaak word ondersoek, maar dat die ooggetuies se weergawe van gebeure nie vertrou kan word nie .
“Die ooggetuies is dwelmverslaafdes en het nog nie ‘n getuie wat met sekerheid die aand se gebeure kan weergee nie.”
Hy het gesê die polisie ontvang steeds baie inligting, maar nie genoeg om iemand vir die moord in hegtenis te kan neem nie.
“Ons het wel ‘n verdagte in die saak. Al hierdie inligting sal aan die nuwe ondersoekbeampte verskaf word.”
Enslin het gesê enigiemand met meer inligting word steeds gevra om hom te kontak by 082 413 2768. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.
Verwante artikels:
• Two stand on for IFP councillor’s murder
• Muldersdrift murder leaves a void
• Lovers’ quarrel leads to murder
Sou jy graag nuusflitse via WhatsApp wil ontvang? Stuur ‘n SMS/ WhatsApp boodskap met jou naam en selfoonnommer na 079 435 3799.
Maak seker dat U kennis neem van ons WhatsApp-vrywaring
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald, Roodepoort Record en Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
