Editor's choiceLocal newsMunicipalNews

Buurman se erf ‘n kopseer

Twee mans is keelvol vir hul buurman se 'oerwoud' met sy ongenooide peste.

Twee inwoners van Luipaardsvlei is keelvol vir hul buurman wat sy erf glo al die afgelope 30 jaar verwaarloos.

Van bosse onkruid, rommel, omgewaaide bome, bamboes tot ‘n rotteplaag rus swaar op Nols van der Mescht en Johan Nell se gemoed, want hulle doen moeite om hul huise en erwe netjies te hou.

Maar watse kwaad kan ‘n oerwoudagtige agterplaas nou eintlik doen?

Bo en behalwe die rotteplaag en vullis wat orals rondwaai, meen Van der Mescht sy buurman se ‘oerwoud’ hou ‘n brandgevaar in, terwyl Nell weer glo die beboste agterplaas is ‘n skuilplek vir skelms.

Van der Mescht se hoofklagte is die rotte wat in sy se erf inkom en sy groentetuin en vrugtebome verwoes.

Hy moes selfs van die papegaaie waarmee hy geteel het ontslae raak omdat die rotte die kleintjies opgevreet en die neste beskadig het.

Die rotte se ontlasting in die hokke het die voëls begin siek maak en Van der Mescht het besluit om sy stokperdjie prys te gee.

‘n Ander probleem is dat dit Van der Mescht soms tot R400 per maand uit die sak jaag om die rotteplaag te probeer beheer.

'n 'Oerwoud' wat bestaan uit onkruid, dooie bome en peste.
‘n ‘Oerwoud’ wat bestaan uit onkruid, dooie bome en peste.

Die mans het al talle kere met hulle buurman oor die probleem probeer praat, maar sy enigste reaksie is altyd, “Ek sal kyk wat ek kan doen,” … en dan gebeur niks nie. Sedert hy die huis in 1985 gekoop het, sukkel Van der Mesch om tot sy buurman deur te dring. Die erf het glo al so gelyk toe hulle langsaan ingetrek het.

Omdat die buurman ook nie na sy swembad omsien nie, is daar ‘n muskietplaag in die somer wat glo al so erg is dat hulle nie eers hul vensters kan ooplos nie.

Nadat die News oor Van der Mescht se muur geloer het om self te sien hoe die oerwoud lyk, is besluit om by die buurman besoek af te lê. Dit was egter feitlik onmoontlik om by sy erf in te kom.

Na talle probeerslae het die buurman uiteindelik met die News in kontak gekom en gesê hy tans is besig om werk te maak van die probleem.

Die buurman, wat liefs anoniem wil bly, het ontken dat die rotteplaag en onkruid enigsins sy probleem is. Hy het beweer die rotte kom van die plakkerskamp daar naby af en die onkruidsaad word deur voëltjies versprei.

Die veld agter Van der Mescht en Nell se huise is netjieser as hul buurman se 'oerwoud'.
Die veld agter Van der Mescht en Nell se huise is netjieser as hul buurman se ‘oerwoud’.

Van der Mescht het aan die News vertel dat hy selfs die Departement van Gesondheid gekontak het rakende die probleem, maar hulle trek glo net skouers op en sê hulle kan nie betrokke raak nie omdat hy die brief wat hulle op sy hek gelos het, eenvoudig ignoreer.

Selfs die veld agter hierdie ry huise is netjieser as die ‘oerwoud’ wat vir Nell en Van der Mescht ‘n steen des aanstoots is.

Wat is jou siening oor die buurman en sy erf? Lewer gerus kommentaar, ons hoor graag van jou.

Vir nog foto’s van die buurman se erf, kliek hier.

Sou jy graag nuusflitse via WhatsApp wil ontvang? Stuur ‘n SMS/ WhatsApp boodskap met jou naam en selfoonnommer na 079 435 3799.

Maak seker dat U kennis neem van ons WhatsApp-vrywaring

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald,  Roodepoort Record en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button