[VIDEO] Bejaarde betrap inbrekers by haar huis
Sy het hulle deur die venster gesien beweeg in haar huis toe sy by die agterdeur instap, net om vinnig weer om te daai en stilletjies te ontsnap van moontlike gevaar.
Dalene Havenga het amper rowers, wat haar van haar juwele en televisie besteel het, alleen in die gesig gestaar na sy op hulle afgekom het in haar huis verlede maand.
“Ek en my oorlede man het saam amper 36 jaar hier gebly. Daar was al inbrake hier gewees, maar ons het hulle nog nooit betrap nie,” het Dalene van die inbraak wat op 12 Julie ongeveer 8nm gebeur het, vertel.
Dalene het by haar agterdeur ingegaan, die hek en traliedeur oopgesluit, en toe ‘n beweging deur die venster opgemerk. Sy besef toe daar is inbrekers in haar huis.
“Ek het net daar stilgehou, toe die deur weer toegemaak, omgedraai en na my kar geloop.”
Dalene het stilletjies die kar by haar erf uitgery en na die polisiestasie gery.
“Die polisiebeampte sê toe vir my ek moet terug ry huistoe en daar gaan wag. Ek het met my noodligte aan in die straat voor my huis gaan staan.”
‘n Lid van Mapogo Sekuriteit wat die area patrolleer het, staan toe stil by Dalene om haar te help.

“Hy het weer die polisie gebel terwyl ek my dogter laat weet het wat aangaan. Sy en die sektorpolisie het ook opdaag.”
Toe gaan daar geweerskote af.
‘n Verkeersafdeling motor het skielik by die straat afgejaag gekom nadat die verkeersbeampte ook die skoot gehoor het.
“Ek het dadelik gedink hulle het my woefies geskiet. Maar die verkeersbeampte het ons aanbevel om agter my motor skuiling te soek terwyl hy die huis gaan ondersoek.”
Die inbrekers het sonder dat Dalene hulle weer gesien het, gevlug. Al die honde was ook nog veilig.
Die polisie, wat die laaste op die toneel was, ondersoek tans die saak, maar geen verdagtes is al in hegtenis geneem nie.
“Ek kon seer gekry het as hulle my gesien het. Ek is so dankbaar dat die Here my weer veilig uit die huis gely het.”
Hierdie is die tweede geval wat deur die News berig is waar ‘n bejaarde vrou wat alleen bly van haar juwele en televisie besteel is in die laaste maand.
Lees hier: Robbers target elderly women

Verwante artikels:
• [VIDEO]: Vrou wat inbreker met knopkierie slaan by huis
• House robbers receive 10 years
Sou jy graag nuusflitse via WhatsApp wil ontvang? Stuur ‘n SMS/ WhatsApp boodskap met jou naam en selfoonnommer na 079 435 3799.
Maak seker dat U kennis neem van ons WhatsApp-vrywaring
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na krugersdorpnews@caxton.co.za of skakel ons by 011 955 1130.
Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Randfontein Herald, Roodepoort Record en Get It Joburg West Magazine
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!
