Bokskampioen kuier in Krugersdorp
Hekkie was nederig, vriendelik en is as 'n inspirasie deur die jong boksers beskryf.
Verlede week se boksoefening by die Krugersdorp-Wes Boksklub was nie soos enige ander oefensessie nie nadat ‘n spesiale besoeker by die klub opgedaag het.
The Hexecutioner, oftewel wêreldbokskampioen Hekkie Budler het die boksers by die klub kom verras toe hy met sy goue titelgordels by die saal opgedaag het.
Jong aspirantboksers en selfs ouers het in rye gestaan om ‘n foto saam met Hekkie te neem en ook sy handtekening te kry.
Hekkie spog tans met die Wêreld Boksassosiasie (WBA) en Internasionale Boksorganisasie (IBO) se titels as mediumgewig-kampioen en sien daarna uit om hierdie titels op 19 September by Emperors Palace te verdedig.
Op daardie groot aand sal plaaslike boksaanghangers voor hul televisiestelle vasgenael sit om Hekkie in sy geveg teen Simpiwe Khonco van Oos-London te ondersteun.
Dit sal Hekkie se eerste geveg in meer as ‘n jaar en ‘n half in Suid-Afrika wees.

“Ek is nog nie senuweeagtig nie, maar sal ‘n week voor die geveg die skoenlappers in my maag begin voel,” het Hekkie gesê.
Tydens sy besoek aan die klub was Hekkie nederig, vriendelik en is as ‘n inspirasie deur die jong boksers beskryf.
Hy het aan die News verduidelik dat boks ‘n eensame sport is wat baie harde werk en motivering vereis.
“Sit in wat jy wil uitkry; dit is die enigste manier hoe jy bo gaan uitkom. Boks moet jou lewe word,” is Hekkie se wenk aan boksers wat graag op internasionale vlak in die kryt wil meeding.
Verwante artikels:
• Boxing champs at large in town
• Professionele boksers inspireer ander
• Almal eintlik wenners in bokstoernooi
