Local newsLocal sportNewsSport

Heerlike lentestap – kom verfris jou siel

Kom skep weer asem soos wat die natuur begin regmaak vir lente.

Dis heerlike lente en tyd om die winterstof van jou lyf af te stap.

Die Krugersdorp Stapklub bied twee opwindende roetes aan vir September en Oktober.

Die eerste roete, Groenkloof word op 12 September gestap.

Dit is een van hul gunsteling staproetes wat langs die Pretoria Tuine in die nuwe wildreservaat geleë is. Dit is 10km lank. Hierdie is werklik ’n pragtige roete met sy effense moeilik-faktor, maar al die wilde diere (nie die groot vyf nie) is ’n bonus. Daar is verskillende rooibokke, wildebeeste, kameelperde en kwaggas te sien – ’n fees vir die oog.

Veral kinders geniet hierdie roete baie. Die omgewing is baie mooi en is bedoel vir diegene wat ’n bietjie gemakliker wil stap. Die roete is baie goed versorg.

Bergfietsryers gebruik ook die omgewing, maar ry nie op die staproete nie. Jy kan nog ’n trein daar onder sien verby ry en daar is ook verkeer ver onder, maar jy sien dit nie heeltyd nie, net so aan die begin van die roete. Hulle het ’n mooi piekniekterrein waar geparkeer kan word en daar word gewoonlik ’n vleisie gebraai na die stap.

Op 10 Oktober word die Hennops-roete beplan.

Hierdie is ’n baie gewilde roete. Dit is redelik lank, sowat 12 kilometer, en het baie uitdagings vir die avonturier. Daar word met ’n kabelkarretjie oor die rivier gery, waarna daar met ‘n leer afgegaan word na ’n grot wat skuiling bied teen wind en weer.

Daar word oor koppe en klowe gestap, en wild kan ook gesien word. Goeie skoene en genoeg water (en energie stafies) is ’n moet op hierdie stap. ’n Bedrag van R45 word vir volwassenes gehef. Die omgewing is pragtig en die roete was nog altyd goed versorg. Dit is ’n goeie stap vir diegene wat werklik oefening en die buitelug nodig het, maar selfs ook vir dié wat net eenvoudig ’n goeie wegbreek en ’n oggend in die rustige en pragtige natuur wil geniet.

Stappers vergader by Heritage Square op die hoek van Cecil Knight- en Viljoenstraat om 7.15vm. Vir verdere besonderhede kontak Lu by 083 235 1958 of Phillip by 083 788 4555.

Nog artikels waarin jy sal belanstel:

• Sit ‘n huppel in jou stap

• Begin die jaar met ‘n huppel in jou stap

• Heerlike staproetes vir hart en siel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button