‘Die bokke gaan wen!’
Volgens die Wes-Randse Harlequins Rugby Klub gaan die Springbokke dié keer die beker huis toe bring.
Hy loer, hy kruip … en voordat jy dit weet, is hy hier!
Die 2015 rugbywêreldbeker.
’n Paar hakas gaan gedoen word, drieë gaan gedruk word en spelers gaan heel waarskynlik gereeld met die grond kennis maak.
Die agtste rugbywêreldbeker wat vanjaar in Engeland aangebied word, beloof om weereens duisende rugby aanhangers van 18 September tot 31 Oktober in die stadion of voor die televisie te hou.
Volgens die Wes-Randse Harlequins Rugby Klub gaan die Springbokke dié keer die beker huis toe bring.

“Die Springbokke het genoeg hart om te wen. Hulle is een van die beste rugbyspanne in die wêreld,” het Frans Lennon, die kaptein van die Harlequins se eerstespan vertel.
Ockie Olivier, voorsitter van die klub glo sy vrou gaan hom nie voor die televisie wegkry nie.
Die Springbokke speel hul eerste wedstryd op 19 September teen Japan. Suid-Afrika gaan vir die trofee veg en ook om hul derde posisie op die Wêreld Rugby federasie se ranglys te hou.
Nieu-Seeland is die 2011 wêreldbeker kampioen, maar Springbok Morné Steyn is as die top puntebehaler aangewys toe hy 62 punte in die toernooi aangeteken het.
Met dié dat kaartjies vir die finaal vanaf R3 200 kos, gaan baie Suid-Afrikaners vanaf die sitkamerbank die Springbok-span ondersteun.
Vertel ons wat jy en jou familie beplan vir die wêreldbeker, ons hoor graag van jou.
Verwante artikels:
• Rugby en ‘n verhouding met God hier van toepassing
• Bok-ondersteuners vang gees by Silverstar
