EntertainmentLifestyleLocal newsNews

Word ‘n akteur by Aardklop

Geen drama-agtergrond of -ondervinding is nodig nie. Kort of lank, dik of dun, oud of jonk, manlik of vroulik is welkom om in te skryf.

Het jy al daarvan gedroom om in ‘n groot toneelstuk te speel?

As jy beplan om hierdie jaar ‘n draai by die Aardklop Kunstefees te maak, kan hierdie droom bewaarheid word.

‘n Klompie feesgangers gaan die kans kry om te speel in een van die grootste toneelproduksies tydens Aardklop, naamlik Die Waarsêer.

Hulle gaan die verhoog deel met bekende akteurs soos David Reese, Neels Clasen, Hannes Brümmer en Anna Davel. As ekstras gaan hulle deel vorm van die groep dorpenaars wat bymekaar is in die rugbyklubhuis waar ‘n groot deel van die stuk afspeel.

Die Waarsêer is gegrond op ware gebeure wat in die laat 1950’s op die klein dorpie Amersfoort afgespeel het. Dis die verhaal van Kiewiet Vogel (gespeel deur David Rees), wie se sinnelose en droomlose bestaan ingrypend verander wanneer die sirkus dorp toe kom en hy skielik deur `n skynbaar toevallige sameloop van omstandighede hom in die rol van die sirkus se waarsêer bevind.

Hierdie gebeurtenis het onverwagse gevolge. Die stuk is gesinsvriendelik en ouers kan met vrymoedigheid hulle kinders saamneem.

Deur aan amateurs die kans te gee om in so ‘n produksie as ekstras deel te neem, word ‘n stukkie teategeskiedenis gemaak. Ekstras word algemeen gebruik in flieks en TV-reekse, maar dit gebeur nie sommer op die teaterverhoog nie.

Geen drama-agtergrond of -ondervinding is nodig nie. Kort of lank, dik of dun, oud of jonk (ouer as 16 en jonger as 90), manlik of vroulik is welkom om in te skryf.

Belangstellendes moet net ‘n kaartjie vir enige van die vyf vertonings van Die Waarsêer bespreek en ‘n inskrywingsvorm instuur. Indien verkies, kan persone as pare inskryf. Nooi jou vriend, niggie, neef, buurvrou of gade om saam met jou in te skryf.

Meer inligting en die inskrywingsvorm kan by www.windgat.co.za gekry word. Die persone wat gekies is, sal op 1 Oktober daarvan in kennis gestel word. Die Aarkdklopfees vind op 6 tot 10 Oktober in Potchefstroom plaas.

Wees avontuurlustig en skryf sommer nou in – so ‘n unieke geleentheid kom nie baie keer voor nie!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button