Nuwe staproetes vir Oktober en November
Prentjiemooi en uitdagend – stap saam met die Krugersdorp Stapklub.
Die Krugersdorp Stapklub beplan die Hennops- en Bergheim-roetes vir Oktober en November.
Op 10 Oktober gaan die Hennops-roete gestap word.
Hierdie is ’n baie gewilde roete wat redelik lank is – 12 kilometer. Die roete bied baie uitdagings vir die avonturier.
Daar word met ’n kabelkarretjie oor die rivier gery waarna daar met ’n leer afgeklim word na ’n grot waar skuiling teen wind en weer gebied word. Dan word daar oor koppe en klowe getap waar wilde diere gesien kan word.
Maak seker jy bring goeie skoene, genoeg water en beslis energiestafies.
’n Fooi van R45 vir volwassenes word gehef.
Die omgewing is pragtig en die roete is nog altyd goed versorg. Dit is ’n goeie stap vir diegene wat werklik oefening en die buitelug nodig het, maar selfs ook vir dié wat eenvoudig ’n goeie wegbreek en ’n oggend in die rustige en pragtige natuur wil geniet.
Vir 14 November word die Bergheim-roete beplan.
Hierdie roete is in die Rustenburg-omgewing aan die voet van die Magaliesberg-reeks geleë, met ’n reisafstand van 220 kilometer vanaf Krugersdorp en terug.
Dit is prentjiemooi en motors kan op die Bergheim Vakansie-oord se gronde geparkeer word.
’n Gedeelte (omtrent ’n kilometer) van die roete is redelik gelyk en dan word daar berg-op gestap.
Daar is ook twee maniere om op of af te stap. As die linkerkantste roete geneem word, word daar deur ’n droë lopie gestap waarna daar teen ’n rotsagtige formasie uitklim word. Dit is soos ’n plato van plat klippe waarteen opgestap word, wat later in gewone bergveld verander. Hierdie is nie ’n kransagtige formasie nie, maar dit is beter om daarmee op te stap, as af te stap.
Daar is baie mooi bome en plante op die roete te sien en wanneer jy by die kruin van die berg kom, kan jy Hartebeespoortdam onderlangs sien. Daar vertoef die groep gewoonlik ’n rukkie.
Daarna word daar regs af deur ’n klofie en anderkant teen die berg af gestap. Hierdie roete is ’n vyf gradering, het ’n moeilikheidsfaktor en is 10 kilometer lank.
Die groep vergader by Heritage Square in Cecil Knightstraat om 7.15vm en vertrek om 7.30vm.
Vir verdere besonderhede, skakel Lu by 083 235 1958 of Phillip by 083 788 4555.
Verwante artikels:
• Heerlike staproetes vir hart en siel
• Heerlike lentestap – kom verfris jou siel
