Leerlinge sing, dans en vermaak bejaardes
Leerlinge hou 'n Kerstee om bejaardes te bederf.
‘n Groep Graad 10-leerlinge van Maragon Private Schools het hul harte deur middel van ‘n spesiale Kerstee vir ‘n paar bejaardes oopgemaak.
Die Kerstee is vir vier verskillende tehuise in ‘n mooi versierde skoolsaal gehou en die leerlinge het vir alles gesorg.
“Ons het baie moeite gedoen en die tafels het pragtig en vrolik gelyk. Wat ‘n wonderlike ondervinding,” het Sharissa Krause gesê.

Die inwoners van Mug and Tree Community Care Centre, Floroma Ouetehuis, Môreglans Tehuis en die Roodepoort Sentrum vir Bejaardes is bederf met lekker eetgoed en van die leerlinge het hulle vermaak met sang, dans, opvoerings en voordrag.
Die Maragon-skoolkoor het ook hul staal gewys en ‘n pragtige weergawe van I lived gesing terwyl die Graad 9 en 10 revue-lede Superman opgevoer het.

“Ons was aanvanklik baie senuweeagtig want ons het nie geweet wat om van die senior burgers te verwag nie. Ons was aangenaam verras oor hoe vriendelik en vrolik die liewe mensies was. Hulle het opregte belangstelling in ons getoon en lekker met ons gesels. Die oggend het beslis baie suksesvol verloop. Dit was vir ons as tieners ‘n gulde geleentheid om die generasiegaping ‘n bietjie te oorbrug en by wyse en interessante bejaardes te kuier,” meen Sharissa.
Soortgelyke artiekels:
•Happily spoiling Mug and Tree
•Môreglans doen dit sommer self
